'Bybel' staan in vet, goue, ouwêreldse, Turkse letters op die buiteblad van die swart boek geskryf.  Tussendeur die gesels het Danie dit terloops op een van die leë tafels in die eetsaal gesit en genoem dat as iemand dit graag sou wou hê hulle dit maar kan vat.

Al rede vir sy hiér wees is dat hy met alles in hom vir sy ouers en twee jonger susters wil sorg.  Hy is hulle uitkoms, die sleutel tot 'n beter lewe losgewriemel uit die koue kloue van armoede.  Die feit dat hulle op hom hoop is die dryfveer wat hom daagliks en snags laat opstaan as sy wekker dringend skree dat sy skof nou gaan begin.

Sy is so klein en fyn, maar dapper en vasberade.  Haar naam is Monica en sy is die enigste vrou op haar skip.  Twintig jaar jonk, in 'n mannewêreld.

‘Victor’ stel hy homself voor.  Hy is die eerste offisier op die EUROPEAN EAGLE.  Net uit die manier waarop hy groet kan Nico aflei dat hierdie man vol is - dit is nie meer hy wat lewe nie, maar Christus in hom.