Danie skep nog asem na hy die trapleer skip-op geklim het, toe is ‘n jong seeman al by.   Mens sal nie weet of dit die baadjie met die geborduurde Kruis daarop, of die afkondiging wat oor die luidsprekers blêr, dat iemand van die ‘mission’ aan boord is, wat die jonkman so blitsig laat naderstaan het nie.

‘Ek mis my familie’ is sy openingswoorde sonder om homself voor te stel.  Net dit.  Hy vuur die woorde af soos ‘n salvo geweerskote in die niet in.  Uit nêrens.  Sonder konteks of  verduideliking.  Dis ‘n noodkreet.  Dis rou.  Dis asof hy dit al maande swygend en swaar ronddra soos ‘n gloeiende kool wat hom gaan verswelg en hy nou nie meer vir ‘n sekonde langer kan verduur nie.  In die vier-woord kwatryn is sy verslaenheid en gebrokenheid onmiskenbaar. 

Vir Danie se geoefende oor, is geen konteks nodig nie.  ‘Ek mis my familie’ sê alles.  Wat kan erger wees.  Sit dit in die konteks van seeman wees, en die storie skryf homself ...

Danie skat hom ‘n bloedjonk sewentien of agttien jaar.  Hy’s net-net nie meer kind nie.  Net-net.  As hul eers ‘n stil plek kry om te gesels is Danie se vermoede in die kol.  Dis Carlos se eerste skip waarop hy werk.  Dis sy eerste keer weg van die huis af.  Huis is vêr en dis lank om weg te wees van vriende, familie en alles wat bekend is. Dis oorweldigend.  Elke dag vreet die diep verlang dieper. 

Dis vir die Carlosse van die see wat CSO daar is.  Dis vir elke Carlos wat in ons hawens aandoen en nodig het dat iemand moet luister, nodig het dat iemand saam hulle moet bid, nodig het om te hoor dat God hul stewig in Sy hand het ... dis vir elkeen van hulle wat CSO bestaan. 

Carlos en Danie sit lank en gesels - oor verlang; oor behoort; oor diep asemhaal en ook oor die God wat alle verstand te bowe gaan.  Uiteindelik stap Carlos met bietjie meer moed, regop skouers en ‘n Tagalog Bybel wat Danie uit sy knapsak kon aanbied, skip-in. 

Laat ons nie vir ‘n oomblik voorgee dat ons redders is nie.  Wat wel waar is, is dat ons soms in ‘n Godsoomblik op die regte tyd op die regte plek is om seemanne te help om nog eenkeer asem te haal.  Nog een asem is alles.  Die lewe is mos maar ‘n asem lank.  

U donasies laat ons toe om elke dag na die Carlosse van die see om te sien.  Oneindig dankie daarvoor.