Hoe groot is die versoeking dan om in die tyd van hierdie brief in donker, dramatiese en melancholiese sinne te skryf. Dis haas onweerstaanbaar om nie so te skryf nie – met swaar woorde wat belg en bind in kettings. Hoe groot is die versoeking dan om soos ‘n seeman biegend te bely dat hierdie virus soms naby voel en God ver...

Maar, Romano wat voor Danie in Port Elizabeth staan se gesigsuitdrukking verklap hiervan niks. Hy werk onder in die enjinkamer, sy oorpak swart besmeer met olie en ghries. In sy hande hou die seeman uit Pole die nuwe Bybel in sy eie taal vas, soos ‘n kind wat daardie iets spesiaal wat hul so lankal voor wag, eindelik besit. Hy verdwyn eers eenkant toe terwyl die ander seemanne met Danie geselsies maak. Eindelik verkas hulle een vir een, meestal op koers na waar hul oor die tweerigtingradio geroep word. Dan staan Romano nader...

Hy glimlag - sy oë, sy hande, ‘n dankbare traan - alles getuienis dat hierdie oomblik spesiaal is. Dis sy eerste Bybel wat hy sy eie kan noem en dit in sy eie taal. Sy Engels is swaar, moeilik, soos ‘n ou kar wat net nie wil aansluit nie. Maar, die Woord oorbrug dit. Die Poolse Bybel waarvan die blaaie wit en vars is, is genoeg vir hom. Dit is die sleutel tot sy hart en tot hierdie oomblik ...

Hy en Danie beduie, klets, en lag en bid in ‘n oomblik waarvan die hoofopskrif in ‘n koerant sou wees: ‘God is hier teenwoordig’. Soos die skrille teenpool van sy vuil oorpak die varsnuut bladsye van die Bybel is, so is die lig, lag, genade en vrede in hierdie oomblik in dramatiese teenstelling met die donker, melancholiese en oorweldigende gevoelens waarin ons wêreld verval het.

Hoe dringend nodig het ons wêreld nie oomblikke van Lig nie? En dit is wat die Christelike Seemansorganisasie doen.

Seemanne en die skepe waarop hulle dien, dryf 90% van alle wêreldhandel. Hulle waag hulle lewens vir ons elke dag. Ons as ‘n interkerklike sendingorganisasie glo dat ons vir elke gewillige seeman 'n Bybel in sy eie taal moet gee en hulle met die genade en liefde van Christus moet versorg. Ons bedien sedert 1944 duisende seemanne in ongeveer 106 tale in die vyf grootste hawens van Suid-Afrika. Om dit te kan doen het ons jou hulp nodig en pleit ons by jou om ons werk asseblief finansieel te ondersteun. Jou donasie sal hierdie Koninkrykswerk laat voortgaan sodat die Evangelie na die uithoeke van die aarde sal gaan.

En, dis die Lig wat niemand kan uitdoof nie.

SMS cso na 42030 om R30 te skenk (admin en selfoonkostes geld) of maak 'n aanlyn donasie. Vir ander maniere hoe jy ons kan ondersteun, kliek hier.

Jou donasie is ontsaglik baie werd en sal hierdie Koninkrykswerk laat voortgaan sodat die Evangelie na die uithoeke van die aarde sal gaan.