Aan die einde van 1975 het ons besluit om ons eerste hawesending te open in Saldanhabaai. Ons was gelukkig om 'n afgetrede egpaar, wat verskeie tale kon praat, aan te stel.

Hulle het amptelik begin werk in 1976. Toe die eerste skip in die nuwe hawe vasmeer, was ons sendelinge daar om hulle te ontmoet en Bybels in hulle eie taal uit te reik. Ons het nou ’n predikant wat voltyds in die hawe werk.

 

Sendingwerker aan die werk

Wat is eenvoud ...?  Vir my, die skynbare teenstrydige gedagte dat minder meer kan wees ... dat dit wat ooglopend ongekunsteld is, diep kompleks kan wees.  Eenvoud, lei die bekende liriek 'is die vreugde van die lewe, dit gee en neem net wat daar is, dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood wat liefde is'.

Is dit eenvoudig om jou hele jy aan Hom te gee?  Of is dit diep kompleks?  Ek wil raai dat dit 'n eenvoudige kompleksiteit is. En die manier waarop God na mense kom?  Is dit eenvoudig, of ...

In die hawens rondom Suid-Afrika is ons daagliks getuies van hierdie teenstellings.  Van hoe God op die mees eenvoudigste manier, deur 'n gebed of 'n gedagte wat ons deel iets kompleks in mense laat gebeur.

Soms verwag mens vuurwerke en drama as God mense raak.  Mens verwag dat die berge sal skud of dat Hy Homself sal wys in die magtige suid-oos wat deur die Kaapse hawe blaas.  Maar dan, met iets eenvoudig, met die fluistering in die windstilte, kom raak Hy seemanne en verander Hy hul toetentaal. 

Dis menslik om die drama te soek -  dis meer sensasioneel, 'n beter storie om te skryf.  Dit gryp mense se verbeelding meer aan as daar storms en rukwinde betrokke was.  Maar ironies genoeg is die Hand van God meer dikwels in die gewone, alledaagse, eenvoudige.  Dit is wanneer een van CSO se manne sommer met 'n seeman gesels of hom 'n stukkie om te lees in die hand stop.  In daardie eenvoud lê wonder, lê kompleksiteit.

Hoe magtig, ongelooflik, kragtig is die teenstrydigheid nie dat die God wat die waters van die aarde in Sy hand afgemeet het ook in die eenvoud van elke gesprek met 'n seeman is ...

Hoe ongelooflik dat ons by die CSO elke dag getuies kan wees van hoe God mense in hul eenvoud op eenvoudige maniere raak, net sodat Hy hul kan raak tot in die kompleksheid van hul diepste wese.