Hul ontmoeting vind plaas langs André se Via Dolorosa.  Sy lydingspad se spore loop swaar getrap al die pad uit die Oekraïne.  As hy ‘n oomblik durf terugkyk oor die afgelope twee jaar, is dit wat hy in die truspieël sien grou, hartverskeurend en pynvol, soos ‘n gloeiende kool wat ongenaakbaar en verwoestend in sy binneste brand.    André se Via Dolorosa is een van verlies.  In ‘n oorlog wil mens dadelik die sprong maak dat verlies verwys na hulle wat langs die pad slagoffers was van koeëls en bomme – en ja, dit is, maar dis selfs meer ... Dis ‘n verlies aan jouself, verlies aan jou menslikheid, verlies aan als wat jy gedog het betekenis het.  

Oorlog stroop absoluut.  Dit verswelg jou kom en jou gaan.    Die grou spore in die truspieël is een ding, maar dis die nimmer wykende swart onweerswolke op die horison wat jou dreig verslaan sodat jy wil skree, ‘Ek kan nie meer nie!’  Vir André is die realiteit dit:  Sy agt-jarige dogtertjie en haar ma moes in Odessa agterbly.  Daar is geen ander uitkoms nie. Sy hiér-wees op die skip, is noodsaaklik vir hulle oorlewing.  Die geld wat hy maak is hul enigste hoop om te ontsnap.  Maar, om jou kind en jou vrou agter te los in ‘n oorlog – dis nie ‘n eenvoudige kruis om te dra nie.  Watter pa, watter man, doen dit? – kom die verwyt. 

Nico van CSO, sit stil na André se storie en luister.  Nico is diep bewus hoe goedkoop woorde is.  Enige raad of advies aan die man wat stukkend voor hom sit sal hol simbole wees.  Hy is bewus dat al wil hy hoe graag, hy op geen manier die werklike dieptes van André se smart kan verstaan nie.  Met groot versigtigheid, sonder om voor te sê of te suggereer dat hy wat Nico is hoegenaamd antwoorde het, kan hy wel vertel van ‘n ander man wat so ‘n pad moes stap.  Af oor die Via Dolorosa, soos 'n lam het die Messias, Christus die Koning, gekom, uit Sy liefde vir jou en my. Af oor die Via Dolorosa, al die pad na Golgota. En anderkant Golgota weet ons nou, is ‘n oop graf.

 Elke ontmoeting wat ons daagliks by CSO met seemanne het, is nie ‘n wonder-storie wat iemand onherroeplik verander nie.  Meer as dikwels, as ons ‘n seeman langs sy Via Dolorosa ontmoet, is ons taak om met groot versigtigheid daardie seeman met ‘n enkele tree vorentoe te help.  Dis soms ‘n tree weg van die ‘ek kan nie meer nie’ afgrond, ander kere ‘n tree wat nuwe perspektief gee.  Dis soms die kleinste van dinge.       Een tree kan alles verander.

  Wil u dit nie biddend oorweeg om ons finansieel te ondersteun sodat ons kan aanhou om daar te wees sodat seemanne momenteel op ons kan leun om net nog een tree te gee nie? Dit sal alles verander.

  NS. Ons bankbesonderhede: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 630509. Rekno: 1520-230-226.