Sy is so klein en fyn, maar dapper en vasberade.  Haar naam is Monica en sy is die enigste vrou op haar skip.  Twintig jaar jonk, in 'n mannewêreld.

Haar storie is dié van 'n heldin – 'n meisiekind wat alles opoffer om hierdie werk te doen, 'n ridder-vrou wat met die geld wat sy verdien in uiterste werksomstandighede, haar hele familie onderhou.  

Sy is tot oorlopens toe vol.  Sy dra swaar aan hierdie werk, wat plig en nie plesier is nie, swaar aan die verantwoordelikheid om te sorg vir hulle by die huis.  En dan is sy moeg - nie die tipe moegheid wat ‘n middagslapie gaan uitsorteer nie, maar daardie tipe moegheid wat jou lyf, kop en hart wil verswelg.

Maar in hierdie oomblik, rondom ‘n koppie koffie saam met Nico, kan sy haar lewe uitpak.  

Vir 'n oomblik kan sy asemhaal.  

Vir 'n oomblik kan sy rus.  

En hy kan haar bemoedig en omgee beleef in 'n wêreld wat bitter hard en koud is en waar omgee 'n skaars woord in die meeste se woordeskat is.

Dit terwyl Nico haar stilweg bewonder.