Als is 'n storie - u, ek, ons - elkeen 'n storie. Die heelal, 'n storie – soveel meer as bloot toevallig saamgeflanste atome. Ons bestaan, 'n storie – soveel meer as 'n vooraf gemanipuleerde diskoers wat ons bloot daagliks, onder dwang, slaafs navolg.

'Ons word slegter as honde behandel, maar daar is een groot verskil, as iemand iets aan 'n hond doen dan is almal besorgd, maar as iets met 'n seeman gebeur is dit nie juis vir iemand 'n probleem nie' gesels die kaptein. Hy bekla sy en sy mede-seemanne se lot by Chris in Durban-hawe. Die gesprek maak 'n draai by seerowery voor hy verder vertel hoe uitdagend die seemanslewe kan wees.

Dit wil-wil of die swart hond die siekte van ons tyd is, die grootste uitdaging van 'n era. Party wil dat die ondier die tekens van die tye is, ander weer voer aan dat ons verslaaf is aan die donker, verslaaf is aan pyn. As jy vir weke, maande, jare op Golgota gestrand is - onbewus van die Krip, onbewus van die leë graf, dan raak jy bewus van die donkerte se byt.

Tegnologie is rats aan die werk op die IRON LADY in Coega waar erts binne-in die maag van die honger, onversadigde skip ingelaai word. Danie weet van meet af dat hy eintlik nie welkom is nie.