Die groen, plastiek Kersboom sowel as die goue en silwer balle wat moeisaam weke tevore opgeslaan is, word nou uitgedien, afgeslaan en in ‘n langwerpige bruin boks gepak.  Dit sal stof vergaar tot in Desember 2024 wanneer die ritueel homself sal herhaal.  Daarby word ook die staltoneel wat deel van die Kersfees parafernalia is, kompleet met skape, herders, ‘n krip en ‘n baba in doeke toegedraai, se prop by die muur uitgetrek.  Dié kom met sy eie klankbaan wat ‘Joy to the World’ op ‘n vrolik, tog mankoliekig en blikkerige manier, wat nie maklik op die oor is nie, herhaal en herhaal, terwyl bont liggies wat herinner aan ‘n popkonsert flikker en die figuurtjies allerhande ougat bewegings maak.  Skielik is die lig in die stal doof. 

Maar ook die diepere dinge, die hoop, vrede en guns van die Christuskind blyk vinnig te verdof.  Die nuwe jaar bring klokslag nuwe eise.  Die lig in die stal laat ons jaarliks moed skep, maar soos die dae en maande van die nuwe jaar sy ding doen, word die lig al dowwer totdat ons na nog ‘n omwenteling om die son, weer uitgebrand en desperaat die stal se Lig opsoek. Dis nie eenvoudig as daar nie meer hoop is nie.  Dis nie eenvoudig as ons toelaat dat daar stof vergaar op die Kind van die Krip nie.  Ons het hoop so bitterlik nodig!

Ook so is dit met die manne van die see ...

Die groot volwasse man wat op die dek van ‘n skip voor Danie in Gqeberha staan en met rukkende skouers huil en vertel van hoe hopeloos dinge is...

Ook die man wat op ‘n vragskip in Durban vertel van die walglike oorlog in Oekraïne wat sy familie gesteel het...

Ook die Filippynse derde offisier wat die traumatiese nuus kry van sy vrou se miskraam, en dat sy in ‘n hospitaal duisende myle weg, om haar lewe veg...

Laat ons dan nie toelaat dat daar stof vergaar op die Kind van die Krip nie.  Laat ons dan nie toelaat dat die hoop wat die Kind bring saam met versierings weggepak word nie. Want, hoe uiters dringend het ons nie hoop nodig nie...

Ontsettend dankie vir jou bydrae, want daarmee sal ons die Kind van die Krip se boodskap aanhou bring aan elke seeman wat ons land se hawens besoek.  Mag die lig van die krip in hierdie jaar vir u helder aanhou skyn.