In 1944, het die Gereformeerde Kerke en die Hervormde Kerk in Kaapstad besef dat daar 'n ernstige behoefte was onder die seemanne wat die hawe besoek. Op 9 November 1944, het die gemeentes begin werk om voorsiening te maak vir die behoeftes van Nederlandse soldate en seemanne op pad na en van Indonesië. Toe is alle werk vrywillig gedoen.

Vir baie jare het net Hollandse skepe enige aandag gekry, maar dit het geleidelik baie duidelik geword dat daar groot geleenthede was vir sendingwerk onder ALLE seemanne in die Kaapstadse hawe. Sedertdien het die werk ten volle interkerklik geword en dit het geweldig gegroei.

 

Sendingwerker aan die werk

André is aan boord 'n tenkerskip in Kaapstad.  Dis sy soveelste besoek en hy en die bemanning is nou al op voornaamterme.  Met nuus dat André aan boord is, kom maak selfs die kaptein 'n draai vir ‘n geselsie.  Dis sy laaste dag aan boord, en met die slag van die kanonskoot op Seinheuwel sal hy sy verantwoordelikhede oorgee aan ‘n nuwe kaptein.  

Hy blaai deur die Bybels wat André op die tafel uitgepak het.  Dis die katalisator wat die gesprek 'n wending laat neem.  Hy reflekteer oor sy tyd aan boord, oor hoe moeilik dit soms was - oor die eb-en-vloed van seeman wees.  En sy eindelike konklusie?  Dat God die een konstante is.  Dat die Fluistering in die windstilte altyd daar is; getrou, konstant, ewig.
   
En daarom is dit hoe hy sy skip bestuur - hy bemoedig elkeen daar om noukeurig te luister en stil te wees, sodat hulle in die stem van die see, ook God se stem kan hoor.  En daarom, verduidelik hy, is hy so vinnig om vir André te kom groet - want deur André se bediening kan elkeen van sy bemanning die geleentheid kry om die Fluister in die windstilte helderder te kan hoor.