'Bybel' staan in vet, goue, ouwêreldse, Turkse letters op die buiteblad van die swart boek geskryf.  Tussendeur die gesels het Danie dit terloops op een van die leë tafels in die eetsaal gesit en genoem dat as iemand dit graag sou wou hê hulle dit maar kan vat.

As Danie vra, beaam Shikur, een van die seemanne, dat nie een van die Turke aan boord Christene is nie - hulle is almal Moslems, verduidelik hy.  Ten spyte daarvan, kuier Danie daar, luister hy na hulle stories en ontferm hy hom oor hulle.

Ook hier, op hierdie Moslem-skip is die CSO teenwoordig. Hierdie manne word in Port Elizabeth ontvang met die omgee van die Man van die Kruis. 

Die gesprek gaan oor familie en die lewe van 'n seeman.  Danie verduidelik dat hy 'n Christen is en dat hy weet dat dit 'n goeie manier is om die eise van seemanwees te hanteer.  Hy verduidelik van dié alomteenwoordige God, wat oral, ook op die waters van die see teenwoordig is. Hulle, op hulle beurt, verduidelik dat hul Moslems is, maar tog verstaan wat hy sê.

Vandag kry Danie nie die geleentheid om saam met die groep manne te bid nie, maar tog voel hy dat hy iets van die onvoorwaardelike liefde van Christus aan hulle kon kommunikeer.

As hy sy knapsak pak, gooi hy sy oё oor die tafel waar hy vroeër die Turkse Bybel geplaas het. Die tafel is leeg. En so doen God self die werk.  Op Sy tyd. Op Sy manier.  Ons is bloot die instrumente.