Daar is weer nuus van ‘n nuwe oorlog in die lug, dit, terwyl ons nog beswaarlik herstel het van gister se bomme.  Rondom die Rooisee word nog ‘n duisend lope geolie vir die stryd en soos in die verlede word swaarde geslyp.  Oor die Swartsee dreun die grofgeskut en swaar artillerie nou pal, asof ‘n doodnatuurlike deel van baie se dag-tot-dag bestaan.  Vrede blyk ‘n deksels duur artikel, en liefde ‘n bitter selde item. Wanneer sal berigte tog lui, dat Eden herstel het?

 Nie-verrassend dan dat Danie en Yuri, ‘n seeman uit Oekraïne se smeekgebed as hul saam in die eetsaal van die skip sit, eenvoudig dit is: ‘Dona nobis Pacem’ – Here, gee ons Vrede.  

 Die vrees wat oorlog bring, vreet die vrede op elke denkbare vlak van jou bestaan. As Yuri sy verhaal vertel is dit met sy selfoon naarstigtelik vasgeklem in sy hand – hy verduidelik dat elke boodskap wat deurkom die potensiaal het om sy bestaan onherroeplik te verander.  Elke boodskap is ‘n moontlike bom, ‘n missiel wat kan vernietig.  In Yuri se vertel is dit vir Danie duidelik dat Yuri eens op ‘n tyd meer driftig was: Oorlog het egter die drif getemper met verslaentheid, sy vrede is vervang met ‘n hoogspanningdraad wat pal deur sy hart loop en hom laat voel asof hy enige oomblik inmekaar kan sak.  Oorlog steel alles, maar veral die vrede binne jou. Daarom dan, eenvoudig dit: ‘Dona nobis Pacem’. Asseblief Here! 

Danie en Yuri se gesprek is intens en dringend.  Oorlog bring ‘n ander tipe dringendheid wat vêr anderkant mooi praatjies oor die weer is.  Dit laat jou die sin van die lewe in twyfel trek, laat jou wonder oor God, oor die mensdom, oor bestaan.  Vir Yuri is die feit dat hy dit met Danie kan bespreek en dat Danie bereid is om te luister, ‘n ligpunt midde-in die gedurige trauma wat om hom afspeel.  Net vir ‘n oomblik kan hy die wêreld wat hy op sy skouers dra, met iemand deel.  En na hul lank gesels het, kan hulle smekend saam bid: ’Dona nobis Pacem’ – Here, gee ons Vrede.       

Yuri se storie is een van baie soos die.  Die stories van ondenkbare hartseer wat die bomme en koeëls bring, of dit nou rondom die Rooisee of die Swartsee is, is almal eenders.  Maar tog nie.  Yuri is uniek deur God gemaak.  Daarom sal ons by CSO elke seeman sien as hoogs uniek.  Ons sal na elke storie luister en in ons luister die hoop, genade en liefde van die Een God wat vrede gee wat alle verstand te bowe gaan, met seemanne deel.    

Ons het u ondersteuning nodig om dit te kan doen. ‘n donasie maak ons hande sterk om seemanne in elke hawe in ons land daagliks te bedien.  Oorweeg dit asseblief biddend om deel te raak van hierdie bediening.

*Sommige sinsnedes geneem uit Jannie du Toit se lied ‘Vrede Vanaand’.