Hierdie jaar smag ons meer as ooit na die Heilige nag en die Kind van die Krip. Ons soek skaapwagters en herders op die ope velde, engele wat sing ‘Hosanna’ en ‘n ster wat blink duidelik herinner aan die Koningskind. Ons soek na die ironiese vrede van die vuil stal, want die lewe nou, blyk baie soos die stal te wees – morsig, vuil en deurmekaar. Maar van binne daardie stal, skyn die onmiskenbare Christus-lig wat elke oorlog, elke pandemie, elke regering, elke hartseer en elke terugslag deur eeue heen oorleef het. Die lig is ewig ...

Dis ewig vir die seeman uit Oekraïne wat Danie op die ertsdraer ontmoet. Hy is lewensmoeg. Hy oorwerk homself as ontvlugting van die golwe slegte nuus uit sy land wat hom aanhou teister. Jy hoef geen graad of sertifikaat te hê om te sien dat die lewe besig is om hom te druk en te verblind tot ‘n punt waar moed opgee sal lyk na die enigste uitkoms nie. Vir hom kan Danie iets gee van die vrede van die stal. Dis morsig en vuil, maar die Lig oorweldig... 

Dis ook ewig vir die Indiër seeman wat onlangs sy vrou verloor het, ewig vir die Filippyn wat sy huis in ‘n orkaan verloor het, vir die seeman uit Indonesië wat sommer net hopeloos huis toe verlang. As Chris ‘n Bybel in die hande van ‘n Chinese seeman in Durban sit, dan is dit met die wete dat die Kind ook vir die Chinese seeman ewig is. André weer help ‘n man uit Mianmar op ‘n reuse behoueringskip, Loffie ‘n Filippyn in Richardsbaai en Nico iemand uit Ghana op ‘n stokou, manke skip. Want, die Lig van die Krip is vir elkeen. 

Ons gaan lig om met dinge wat ewig is. So vasgevang in hoe vuil en morsig die stal is, raak die lig ‘n vanselfsprekende bysaak. En daarom Kersfees. Om ons weer te herinner aan die een wat ewig is. Aan die een wat vir elkeen van ons Redder en Vredevors is.

Na ‘n ontsettend moeilike jaar in die skeepsindustrie smag seemanne, meer as ooit, na die Heilige nag, die Kind van die Krip, skaapwagters en herders en engele wat sing ‘Hosanna’. Meer nog na die ironiese vrede wat die Koningskind na ‘n vuil stal bring.

Seemanne en die skepe waarop hulle dien, dryf 90% van alle wêreldhandel. Hulle waag hulle lewens vir ons elke dag. Ons as ‘n interkerklike sendingorganisasie glo dat ons vir elke gewillige seeman 'n Bybel in sy eie taal moet gee en hulle met die genade en liefde van Christus moet versorg. Ons bedien sedert 1944 duisende seemanne in ongeveer 106 tale in die vyf grootste hawens van Suid-Afrika. In hierdie Kerstyd het ons nodig dat u ons asseblief finansieel ondersteun. Dit is al hoe ons die lig van die Christuskind sal kan aanhou deel met elke seeman, in elke hawe in ons land, na die uithoeke van die aarde toe. Wil u dit nie asseblief biddend oorweeg nie?

Mag u in hierdie Kerstyd duidelik herinner word aan die Lig en Ewigheid van Hom wat ons kom vrymaak het.

Om 'n maandelikse donasie deur middel van debietorder te gee, kliek hier om die debietordervorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.