Sleepvoet, asof meganies aangedryf deur 'n krag waaroor hul min beheer het, beweeg hul oor die dek.  Hul voetval is outomaties, asof vasgevang midde-in die repeterende tonele van 'n Griekse tragedie.

Hul lyftaal skree vuisvoos. Hul hare selfs, dik, lanklaas gekap, getuienis dat dit nou te lank raak; dat dit meer is as wat hul alreeds breë skouers kan dra ...  Vir die meeste is dit nou elf maande, vir een man uit die Filippyne, sestien ... 

Chris, op besoek aan hulle skip, vertel dat die moedelose moraal op die DALI, 'n behoueringsvragskip, anders is as enigiets wat hy al teëgekom het.  'n Verswelgende, alles omvattendegemoedstoestand hang soos 'n kwaad-swart wolk oor die skip.  In hulle koppe leef net een gedagte, dat hulle geen manier het om by die huis te kom nie. En dit oorweldig hulle ...

Chris is daar om een rede – om hulle te herinner aan een waarheid – 'n samewerkende teenstelling wat twee konsepte teen mekaar stel ten doel om dit uit te klaar, uit te brei of te konfronteer ... 

– MAAR God ...

Vuisvoos? - MAAR God; Moedeloos? – MAAR God... Daar is 'n legio maniere om hierdie boodskap te deel.  Met die uitdeel van 'n Bybel, met 'n gebed, 'n luisterende oor of deur net daar te wees. Maar, vandag is dit in 'n onbenullige klein handeling wat iets kommunikeer van hoop. Dis 'n klein gebaar wat die eentonigheid onverwags vir 'n oomblik versteur en nuwe perspektief bring.

Die stoppelbaard-hoofoffisier merk op dat selfs om te skeer 'n uitdaging is. Afgesny van die buitewêreld is iets so basies soos 'n skeermeslem, 'n luukse. Vat-vat aan sy gesig verduidelik hy dat sy stomp-en-oor-die-muur skeermes nou niks meer as 'n nuttelose ornament is nie.

Later die middag is Chris terug. In sy knapsak, 'n skeermes.  En in hierdie onbenullige klein ietsie, ontdek die hoofoffisier onverwags iets van MAAR God ... Hy ontdek iets van omgee terwyl hy op die kleinste van maniere ook herinner word dat hy ook saak maak. 

So dikwels moet 'n storie uitspattig wees om indruk te maak. Dalk daarom dat ons so dikwels die verwagting het dat, MAAR God, gepaardgaan met uitspattige wonderwerke en skouspelagtige ingrypings. MAAR God blyk ook in die klein, oënskynlik onbenullighede te wees. Dis so vir my, vir jou en vir elke seeman. Dis ook in die kleine ...             

 

Die swart hond staan aan die strand se kant en blaf... Dit lyk soos 'n geblaf in die wind, maar dis vir die majestueuse skepe wat daar waar hemel en aarde op die horison ontmoet, verbyseil.  Hy volg hulle fluks, altyd dreigend, flitsende tande, naels krappend aan die deure van vele kajuite, reg om toe te slaan as sy prooi vir 'n oomblik weerloos sou wees.  En soms, soms is sy byt fataal.  

Die stories van hoe seemanne in sy kake beland word al meer alledaags.  Depressie blyk nie net die siekte van ons tyd te wees nie, dit blyk die siekte van die see te wees ...   

So is dit met die nuus wat Loffie vroegoggend uit die hawe kry.  'n Skip is oppad hawe-in.  Vir een van die seemanne was die byt fataal.  Alleen, in sy kajuit, na maande wat hy vasgevang was aan boord met geen hoop om huis toe te gaan nie, oor die virus wat die wêreld in 'n onderstebo holderstebolder greep het, het hy tragies die lyn geknip wat lewe en dood van mekaar skei.

Dis lank voor Loffie aan boord kan gaan.  Daar is 'n somber gewemel van polisie en hawe-owerhede wat eers die insident ondersoek en dit vat vele behendige burokratiese gimnastiek om uiteindelik toegang tot die skip te kry.   

Die gesig wat hy daar aantref is voorspelbaar.  Verslae, verward, verbysterd en verlangend na normaliteit sit vyftien man uit die Filippyne hom stil met vraagteken-oë en dophou.  Dis op die kaptein se versoek dat Loffie en sy kollegas daar is.  Loffie weet daar is nie kitspleisters wat die wond van 'n vriend en kollega se leë kajuit gaan verpleeg nie.  Daarom is dit met groot versigtigheid en deernis wat hy die lang pad met elkeen begin stap.  Eers is hy net daar, sonder dramatiese ingrypings of intervensies om dinge reg te ruk.  Heelword het sy eie tyd.

Veel later kom een, en dan 'n ander om te gesels.  Dis duidelik, die swart hond krap ook elders – die huidige situasie waar baie van die manne reeds halfjaar en meer terug by die huis moes wees, kou aan hulle lywe en harte.  Dis asof die swart hond daarin 'n voetholte kry.

Loffie kan net luister, want geen geleerdheid of hoë woorde sal hulle red van hul realiteit nie.  Die enigste iets wat hy het om te gee, is 'n eenvoudige versekering:  MAAR God.....

Dae later is hul weer oppad.  Steeds rou, steeds hartgebroke, steeds bevrees, maar tog met 'n sekere wete – MAAR God....  Loffie bedien die nagmaal – die wyn en brood as gedagtenismaaltyd, om te onthou dat daar na die komma 'n MAAR is.  'n Waarborg dat ten spyte van storms en die lewe se bitterwater, daar 'n MAAR is wat sê, 'Dit is My liggaam, dit is My bloed.’

As die skip oor die horison verdwyn staan die swart hond steeds met rooi oë en 'n kwylbek en blaf.  MAAR God....

Sy senuwees is ver duskant nerfaf. Dis opgekerf aan skerwe... Alles tol buite beheer. Ver buite die gemak van dreigende oranje ligte, flikker rooi ligte nou kritiek met jillende oorverdowende sirenes wat aaklig en skril kerm. Alles wat hy ken hang onheilspellend aan 'n ondenkbare dun enkel draadjie.  Oor die hardnekkigheid van die draadjie het hy sy bedenkinge.... 

Dis soos 'n perfekte storm. Meeste van die Russiese kaptein se bemanning moes vier maande gelede reeds huiswaarts keer, maar is steeds hier met geen idee oor wanneer hul weer die huis sal sien nie. 'n Sestal van die bemanning is siek. Vorige hawens het versoeke dat hul die skip verlaat om mediese versorging te kry, ferm van die hand gewys. Indien een van die manne die skip wel sou verlaat en dan weens mediese redes nie sou kon terugkeer nie, sou dit beteken dat hulle nie kan seil nie. Dit sou beteken dat hy minder as die toegelate minimum aantal manne aan boord het om die majestueuse steenkoolskip te mag bedryf. 

En daar is meer – sy bemanning is drie maande laas betaal. En, op die een of ander manier, verdink hul hóm as kaptein daarvan dat hy iets hiermee te doen het.  So wanhopig is die situasie aan boord dat een seeman sy eie lewe wou neem om te ontsnap.... 

Dís maar net sy lewe aan boord. Wat nog te praat van sy gesin by die huis, die bekommernis oor die chaos wat ook daar heers.... 

Loffie en van sy medewerkers is egter daar. Hulle is vinnig om met die owerhede kontak te maak om die hopeloosheid te probeer verdring.  Hulle reël 'n dokter om die siekes te kom versorg, verpleeg self harte en senuwees wat aan flarde is so goed hul kan...

En in elke klein handeling, in die gesprek wat Loffie met een seeman van Indonesië het, in die dokter se omgee, in die simkaart wat elkeen kry om hulle families te bel, in die luister na die kaptein se ellende, in elkeen hiervan word die boodskap al duideliker -  MAAR God ..; siek, verlate – MAAR God ..; eensaam - MAAR God; hopeloos - MAAR God.  Want wat bly oor? As jy gestroop is van alles, as alles aan 'n dun draadjie hang, watter hoop is daar dan ...

Hoe waardevol is dit nie as iemand dan aan boord kom om jou te herinner aan die teenstelling wat na die komma volg nie, MAAR God... Dis Hoop.

'n Taalles dan:  MAAR – 'n Voegwoord, of konjunksie, wat gebruik word om sinne saam te voeg; 'n samewerkende teenstelling; om twee konsepte teen mekaar te stel ten doel om dit uit te klaar, uit te brei of te konfronteer.

Op sigwaarde blyk MAAR, 'n onbeduidende klein woordjie te wees.  In wese egter, het dit die inherente vermoë om betekenis onherroeplik te verander. Dit stel dit wat is en transformeer dit ... Dit klaar uit, brei uit, konfronteer ...

Dalk net, is daar in hierdie oënskynlik eenvoudige voegwoord hoop vir ons huidige surrealistiese realiteit.  Om in verstikkende donker te kan sê MAAR, om in absolute hopeloosheid te onthou MAAR, in doodse angs te prewel MAAR – miskien is dit hoop?

MAAR, blyk iets te verklap van God se aard.  Die status quo, dit wat is, word so dikwels opgevolg deur 'n MAAR ... 'n MAAR wat dit wat donker en verlore is transformeer deur genade en medelye. 'n MAAR wat uitklaar, uitbrei, konfronteer en transformeer ...

Dit was so vir Noag ... Gestrand op die donker en diep waters – vreesbevange, hopeloos, uitsigloos, bevrees, angstig – byvoeglike naamwoorde wat waarskynlik die mense aan boord die ark se emosies in die dop van 'n neut opsom; en dan – 'Maar God het vir Noag onthou ... en God het 'n wind oor die aarde laat waai, en die waters het teruggetrek.'

As Josef met sy broers herenig word kon hy met woede en haat gereageer het, maar dit – 'Julle wou my kwaad aandoen, MAAR God wou daarmee goed doen …'

Vir die verdwaalde Christene van Rome ... hul leer oor die loon van die sonde en dan – 'MAAR, die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.'  Vir die Efesiërs wat verdwaald is – 'MAAR God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief.' 

Hoe nodig het ons nie om dit te hoor nie? MAAR God ...

Covid 19 – MAAR God ...; Wanhoop – MAAR God; Hartseer – MAAR God ...  Waar u nou sit en hierdie skrywe lees is dit dit ook vir u:  'MAAR God ...'

Die skeepsindustrie is tans in die greep van wat beskryf word as die ergste humanitêre krisis wat dit nog ooit moes deurstaan.  Alhoewel die skattings verskil, word geraam dat tussen 400 000 en 600 000 seevaarders se kontrakte verstryk het en hul geen manier het om huis toe te gaan nie. Hulle is gevangenes in 'n onwerklike realiteit. Die stories wat ons daagliks hoor is nie net hartseer nie, dis hartverskeurend ... 

In hierdie oomblik is dit wat ons by CSO doen meer belangrik as ooit.  Dis dringend dat seemanne, gestrand op die donker en diep waters – vreesbevange, hopeloos, uitsigloos, bevrees, angstig – byvoeglike naamwoorde wat waarskynlik hul emosies in die dop van 'n neut opsom; dit moet hoor:

MAAR God ...

In die volgende weke wil ons met u stories deel oor seemanne.  Seemanne in die greep van 'n krisis.  Seemanne wat hoop vind in dit wat na die komma gebeur, MAAR God ...  

Ons hoop dat u ook daarin sal hoop vind.