Die swart hond staan aan die strand se kant en blaf... Dit lyk soos 'n geblaf in die wind, maar dis vir die majestueuse skepe wat daar waar hemel en aarde op die horison ontmoet, verbyseil.  Hy volg hulle fluks, altyd dreigend, flitsende tande, naels krappend aan die deure van vele kajuite, reg om toe te slaan as sy prooi vir 'n oomblik weerloos sou wees.  En soms, soms is sy byt fataal.  

Die stories van hoe seemanne in sy kake beland word al meer alledaags.  Depressie blyk nie net die siekte van ons tyd te wees nie, dit blyk die siekte van die see te wees ...   

So is dit met die nuus wat Loffie vroegoggend uit die hawe kry.  'n Skip is oppad hawe-in.  Vir een van die seemanne was die byt fataal.  Alleen, in sy kajuit, na maande wat hy vasgevang was aan boord met geen hoop om huis toe te gaan nie, oor die virus wat die wêreld in 'n onderstebo holderstebolder greep het, het hy tragies die lyn geknip wat lewe en dood van mekaar skei.

Dis lank voor Loffie aan boord kan gaan.  Daar is 'n somber gewemel van polisie en hawe-owerhede wat eers die insident ondersoek en dit vat vele behendige burokratiese gimnastiek om uiteindelik toegang tot die skip te kry.   

Die gesig wat hy daar aantref is voorspelbaar.  Verslae, verward, verbysterd en verlangend na normaliteit sit vyftien man uit die Filippyne hom stil met vraagteken-oë en dophou.  Dis op die kaptein se versoek dat Loffie en sy kollegas daar is.  Loffie weet daar is nie kitspleisters wat die wond van 'n vriend en kollega se leë kajuit gaan verpleeg nie.  Daarom is dit met groot versigtigheid en deernis wat hy die lang pad met elkeen begin stap.  Eers is hy net daar, sonder dramatiese ingrypings of intervensies om dinge reg te ruk.  Heelword het sy eie tyd.

Veel later kom een, en dan 'n ander om te gesels.  Dis duidelik, die swart hond krap ook elders – die huidige situasie waar baie van die manne reeds halfjaar en meer terug by die huis moes wees, kou aan hulle lywe en harte.  Dis asof die swart hond daarin 'n voetholte kry.

Loffie kan net luister, want geen geleerdheid of hoë woorde sal hulle red van hul realiteit nie.  Die enigste iets wat hy het om te gee, is 'n eenvoudige versekering:  MAAR God.....

Dae later is hul weer oppad.  Steeds rou, steeds hartgebroke, steeds bevrees, maar tog met 'n sekere wete – MAAR God....  Loffie bedien die nagmaal – die wyn en brood as gedagtenismaaltyd, om te onthou dat daar na die komma 'n MAAR is.  'n Waarborg dat ten spyte van storms en die lewe se bitterwater, daar 'n MAAR is wat sê, 'Dit is My liggaam, dit is My bloed.’

As die skip oor die horison verdwyn staan die swart hond steeds met rooi oë en 'n kwylbek en blaf.  MAAR God....