So herhaal die geskiedenis homself. Toe CSO in 1944 gestig is, was dit veral om aan die Nederlandse soldate na en van Indonesië hulp te verleen. Dit was noodsaaklik om in te gryp om die soldate te help.

Vandag is die geskiedenis weer op ons voorstoep. Oekraïne en Russiese seemanne maak 17% van die wêreld se totale seemanne uit. Dit beteken dat amper een vyfde van die seemanne direk deur die konflik tussen die twee lande geraak word.

Dit beteken nie dat die seemanne aktief in die oorlog betrokke is nie. Die invloed van die krisis lê vir die seemanne op '‘'n ander vlak. Duisende van hulle is in hawens gestrand omdat hulle nie huis toe kan gaan nie. Daar is nie vlugte na hulle tuislande nie. Sanksies veroorsaak dat baie van hulle nie toegang tot hulle bankrekeninge het nie. Dit kan lei tot ‘n groot humanitêre krisis onder die seemanne al is hulle nie binne die konflik nie.

Voorheen in die geskiedenis was CSO gelukkig en kon die seemanne in ons eie hawens help. Vandag se krisis is anders. Dit is vêr van ons grondgebied af. Tog kan elkeen van ons iets doen. Bid vir hierdie seemanne. Bid vir hulle gesinne met wie hulle waarskynlik geen kontak het nie.

Bid dat môre anders lyk. Dit is waaroor hierdie lied gesing deur Rina Hugo gaan. Bid dat die lewe vir elke seeman (maak nie saak of hulle Russies of Oekraïniërs is nie) môre ander sal lyk. Maar bid ook vir elke seeman wat tans op die skepe is. Niemand het ‘n idee waarheen hierdie konflik gaan lei nie. Bid dat ook vir die ander seemanne, môre anders sal wees.

En onthou - dit is vir jou ook! 

Die intriges van 'n skeepsarres is kompleks.  Die emosies daarin opgeknoop wipplank tussen hoogs vlambaar en totale verslaentheid.  Die gevolge is meer as dikwels verwoestend...

Dis 10 Desember 2017.  'n Moedelose bemanning wat Durban binne seil is maande laas betaal.  In dae wat volg speel 'n vuurwarm en komplekse regstryd af met die uiteinde dat die hof die skip agter slot en grendel opsluit.  'n Skeepsarres impliseer dat 'n skip basies in die tronk gesit word.  Die kollaterale gevolg is dat ook die seemanne aan boord nou eintlik tronkbewoners is ... Vanaf die vasgemeerde skip kan hul Durban se blink liggies snags sien flikker en daaroor droom om vry rond te loop deur die strate, maar dis dit.  Die skip is hul totale bestaan.  Hulle tronk.

Net na die skip se aankoms in Desember is Chris, ons Evangeliebedienaar in Durban, aan boord.  Sy doel daar is veelledig: Hy sien om na vlees en gees.  Die realiteit is dat daar geen watervoorsiening, kos of manier van kommunikeer met familie ver aan die anderkant van die wêreld, aan die uitgelewerdes beskikbaar is nie.  

Asof die hopeloosheid daarvan nie swaar genoeg weeg nie, is hulle vasgevang in 'n traumatiese wetlike nagmerrie. ’n Maritieme prokureur vat die saak.  Eindelik, baie geld en tyd later, onttrek hy.  Dan probeer Chris en ander vir hulle 'n prokureur kry.  Dis ingewikkeld.  Die kaptein stel ten duurste sy eie prokureur aan.  Dié verdwyn eindelik sonder dat dit 'n greintjie verskil aan hulle aan boord se saligheid gemaak het.  Dan, onverwags bel 'n prokureur wat Chris genader het terug.  Hy’s bereid om te help op 'n pro bono basis.  Daarin kan Chris nie anders as om God se hand raak te sien nie...    

Dis nou 4 jaar en 6 maande later.  Chris gaan groet die kaptein, nou 'n ou vriend.  Hy is oppad huistoe!  Uiteindelik kon hy met die skip se eienaar 'n ooreenkoms bereik om van sy lone terug te betaal en is die regsgeding ontknoop.  Sy tevrede glimlag is opreg, maar is tog 'n masker waaragter die vernedering en hartseer van die afgelope vier jaar sluimer.  Eers 'n kaptein van aansien, oor vier jaar gereduseer tot iemand wat op aalmoese staatmaak, en nou oppad om 'n nuwe pad deur die lewe oop te kap.

Chris en die kaptein se totsiens is gelaai met vier jaar en ses maande se emosies.  Chris wat aanhou terugkom het van daardie eerste dag in 2017, soms net om te hoor hoe dit gaan, ander kere met water, kos, 'n foon om familie te bel, nuus oor die regsgeding en nou en dan 'n klein, maar hemelse bederfie soos 'n sjokolade.  Die kaptein se emosionele dankie is nie sommer net 'n dankie nie, dis 'n dankie vir vier jaar en ses maande se gesels, se saamstap, se hoop gee, se saam huil en bid ...

Ons by CSO stap elke dag met erns saam met seemanne.  Ons maak erns met elkeen se pad.  In ons saamstap probeer ons liefde, hoop en genade leef en herinner ons seemanne dat God hulle ontmoet, ongeag waar hulle op hul pad is.

U kan saamstap en deur 'n finansiële bydrae help dat geen seeman die pad alleen hoef te stap nie. Oorweeg dit asseblief biddend.

Laat daar dan hoop wees, want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee wat sal heers en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors...

Laat daar dan ook hoop wees, vir Gregori wie se lyftaal afgemat en oormoeg is.  In Durban vertel hy vir Nico stories uit die mees onlangse inskrywings in sy lewens-inventaris.  Sy verlede is deurmekaar en soms onsamehangend, gestileer met byvoeglike naamwoorde soos hartseer, depressief, gespanne, hopeloos.  Hy is van 'n klein dorpie langs die Swart See, ongeveer tweehonderd kilometers van Odessa.  Daar is 'n vrou wat hy bitterlik liefhet, 'n dogtertjie uit 'n vorige lewe, Covid19 wat 'n doodspoor gelos het, skeepsvaart wat die stukkies van sy lewenslegkaart oor die aardbol gestrooi het, hy wat aan die suidpunt van Afrika in 'n hawe sit waar hy geen iemand het nie – dit alles saamgeklits in 'n lewe ...

Maar wat sê mens, hoe troos jy, verpleeg jy die wonde  van 'n lewe waarvan sommige rou sit, ander al hardnekkige letsels.  Dis mos DJ Opperman wat dig: 'watter raad of watter ster sal ek jou wys, om veilig deur die grysland heen te reis?’ Met die advent van 'n nuwe jaar, is die opwinding meestal momenteel.  Die versoeking is groot om maar eerder in die as en roet van die grysland te leef, om maar weer te verval in die mineur note wat die lewe opgedis en saamgeklits  het. 

Maar, laat daar dan hoop wees, want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee wat sal heers en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors…

Dis al wat Nico vir Gregori kan gee.  Dis al wat oorbly, gestroop van alles.  Ons kan maar net hoop, hoop op Hom wat die lewe gee en die lewe neem.  Dis dit.  Daar is 'n definitiewe keuse om te bly Hoop.  Daar is 'n definitiewe keuse om te bly Glo – om te bly liefhê.

As Nico saam met Gregori sit, is dit nie om vir Gregori te oortuig dat hy moet hoop, glo en liefhê volgens Nico se voorskrifte nie, maar eerder omdat Nico nog Hoop, nog Glo, nog liefhet.  Omdat hy glo en hoop op die een van wie geskryf is:  Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors…

Donateurs en vriende help elke dag seemanne om te onthou van Hoop. Dis die mees kragtigste iets wat ons kan doen in hierdie mengelmoes bestaan.  Namens elkeen wat as gevolg van hulle bydrae iets van Hoop beleef het, ontsettend dankie.

Mag julle dan ook in die nuwe jaar aanhou hoop en beleef dat daar 'n Ewige Vader is wat oor jou waghou. 

Dis vuil. Taai bruin stof warrel onheilspellend in die kil wind wat in die Baai waai. Dit kleef aan als. Wanneer Danie laag buk om verby die kabels wat oor die trapleer hang te kom, skuur sy baadjie teen olie en ghries sodat daar nou 'n hardnekkige swart vlek sit wat diep in die materiaal ingeëts is en 'n permanente kenteken van hierdie dag sal wees.  Ervaring het geleer dat so 'n olievlek vir ewig is.

Demitri, wat die inteken van besoekers behartig, staan die onderonsie tussen Danie, die kabels, die oliekol en die nou vernielde baadjie en dophou vanaf die dek. Met die inteken skerts hulle oor hoe niks in 'n hawe ooit skoon is nie.  Van daar af vind Danie sy pad na die eetsaal waar hy die eerste Kersboom van die jaar sien pryk. Groen, plasties, sommer so skeef opgeslaan met 'n paar net-net versierings uit papier geknip...

Seemanne kom en gaan en later kom Dimitri ook soek na iets te drinke. Dis met rede, vind Danie gou uit. As Danie eindelik alleen is staan Dimitri versigtig met 'n tikkie onsekerheid nader. Eers gesels hulle oor dit en dat, dan later weer oor die baadjie waar die oliekol steeds vir altyd sit. En daarin, onverwags, is daar 'n aanknopingspunt. So, sittend langs die groen Kersboom, vertel Dimitri van sy verlede, van oliekolle wat ingeëts in sy storie, permanensie gekry het sodat hy nie daarvan kan ontsnap nie. Sy storie is morsig.  Hartseer.  Oorweldigend.  

So in die dikwels vergete storie agter die plastiek Krismisboom, kan Danie aansluit. Gebore in die stank en vuil van 'n stal, uiteindelik gekruisig. Morsig, hartverskeurend, 'n oorweldigende smeekroep van die kruis, maar steeds die vlekkelose Lam ...

Dis wat die Kind van die Krip vir Dimitri kom doen het. Dis wat die Man van die Kruis se opoffering was, sodat Dimitri wit gewas kan word, soos sneeu. Deur die bril van 'n krip en 'n kruis lyk Dimitri se lewe radikaal anders en op hierdie oggend in sy gesels met Danie, is hierdie nuwe perspektief brood nodig. Dis nie 'n towerstaf wat alles net regruk nie, stem hulle saam, maar dit bring 'n ander dimensie aan jou storie, aan jou vuil, aan jou oliekolle...  

As hul later saam bid, Dimitri nou met 'n nuwe Russiese Bybel toegerus, verklaar hy dat wanneer hy oorweldig word, hy hier in die skadu van die plastiekboom sal kom sit om herinner te word aan die Krip, aan die Kruis.  

Ons donateurs maak die verhaal moontlik. Hulle bring in hierdie Kerstyd die krip en die kruis na seemanne soos Dimitri. Daarvoor, ontsettend dankie. Mag julle ook in hierdie feestyd in elke plastiek Kersboom herinner word aan 'n krip en aan 'n kruis wat ook vir julle daar is.