"Hoe gaan dit met jou?" vra Chris aan die jong gesig agter die masker waar hy aan die bopunt van die trapleer op die African-Tern besoekers inteken.  Dit blyk 'n eenvoudige sleutel te wees – een wat die somber sinisme waarmee die seeman elke aankommer mee meet, verander in 'n glimlag wat verklap word deur die lagplooie om sy oë. Snaaks wat 'n vraag kan doen.  

"Wat het jy nodig, hier, vandag, nou?" is die vraag wat 'n jong Turkse seeman in Port-Elizabeth in sy spore laat omdraai. Dis 'n vraag wat hy lanklaas gehoor het. 'n Vraag wat in hom belangstel en iets openbaar van besorgdheid na sy welstand... En, dalk verrassend, roer die eenvoudige vraag sy hart se landskap.  Dit laat Yuri met liefde en verlange vertel van sy familie in Istanboel. Dit laat hom gesels oor sy groot planne vir die toekoms en uiteindelik ook oor die onstuimigheid en worstelinge van sy geloof. Alles, die antwoord op die regte vraag.   

"Hoe gaan dit met jou familie?" maak in Kaapstad die sluise van die hart van 'n seeman uit die Fillippyne oop.  "Waarvoor vrees jy so?" die sleutel tot 'n gesprek in Richarsbaai. "Waarom huil jy?" op 'n ander dag in Koega.  Dis vrae wat soms gesprekke wat in terme van 'n lewe maar 'n sentimeter lank is, 'n myl diep maak.  

"Hoekom huil jy?" Jesus se vraag aan Maria. "Verstaan julle wat ek vir julle gedoen het?" nadat Jesus voete gewas het ...  Ongelooflik wat die regte vraag kan doen.  

Ons hier by CSO vra daagliks vrae aan seemanne.  Soms is dit so eenvoudig as 'Hoe gaan dit met jou?'. Op sigwaarde simplisties ja, maar in werklikheid kompleks.  In die seemanwêreld is dié vraag so waardevol omdat iemand dit selde vra, omdat iemand selde genoeg omgee, selde tyd te spaar het om hul harte te hoor ...

Saam met die vrae wat ons vra het ons 'n diepe oortuiging in waar die antwoord lê.  Dit lê in Hom wat vir die verlamde man sê om op te staan en te loop. Dit lê in die hoop gebou op 'n leë graf.

Wil u ons nie asseblief finansieel ondersteun om hierdie ontsettend belangrike vrae te vra nie?  U bydrae sal baie doen om die swerflinge van die see te laat onthou van die vraag van eeue terug: 'Wie is hierdie Man dan, dat selfs die wind en die see na Hom luister?'

Dankie is so 'n kort woordjie, maar tog sê dit alles!

MAAR, God het sy Seun gestuur! Nederige krip, donkie, stal, skaapwagter, sterrekyker, 'n hoender wat êrens in 'n hoek sit en kloek.  Alles sodat ons hierdie blye boodskap kan bring wat radikaal teenstrydig is met die chaotiese wêreld waarin ons lewens tans afspeel - MAAR, God het sy Seun gestuur!

Ook vir Mario, wat moedeloos vertel van sy kontrak van vier maande wat nou al skuins by vyftien trek.  As ingenieur werk hy diep in die maag van die monster en is blou lug 'n luukse.  Sy lewe aan boord, is nou 'n bedompige, nagmerriebestaan van vasgevangendheid sonder hoop.  MAAR, God het sy Seun, toegedraai in doeke, ook vir Mario gestuur ... Dis die boodskap wat ons bring.  En daarin vind Mario hoop ...

Ook vir die Russiese offisier wat emosioneel vertel dat hy nog nooit so iets soos hierdie pandemie beleef het nie - Hy het twaalf maande laas vaste grond onder sy voete gevoel. Daar is geen vooruitsig dat dit binnekort sal verander nie. Sy siel is verswelg deur slegte nuus wat in vlae soos in 'n onophoudelike storm oor hom spoel.

MAAR, God het sy Seun, in 'n nederige krip, ook vir die Rus gestuur. Dis die boodskap wat ons bring. Daarin, na 'n lang gesprek en met 'n nuwe Russiese Bybel in sy hand, vind hy vir 'n oomblik skuiling uit die storm.

Ook vir Jasper uit die Filippyne.  Hy verduidelik dat sy lewe in 'n vaste wentelbaan was. Hy was in beheer, als uitgepluis, duidelik oppad ... totdat COVID-19 hom wreedaardig uit die sekerheid gepluk het. Sy vuisvoos liggaamstaal vertel van moed opgee; van desperaatheid. MAAR, God het sy Seun, met engelekore wat sing, 'Vrede op Aarde’, ook vir Jasper gestuur.  Dis die boodskap wat ons bring. Deur saam te wroeg, 'n hand op die skouer as 'n alleen traan wang-af loop, saam te bid en te pleit, kon Jasper ook iets beleef van MAAR. MAAR, die Kind ...

Die ontnugterende realiteit is dat 'n skokkende gerame 400 000 seemanne steeds op skepe vassit nadat hulle kontrakte verval het.  Die werk wat CSO doen is noodsaaklik; ononderhandelbaar. Dis eenvoudig ja ... so eenvoudig as om dag-na-dag, skip-na-skip met groot deernis en begrip die boodskap te bring in wat 'n flenters-stukkend wêreld is: MAAR, die Kind ..

Eenvoudig dalk, maar sonder u donasie onmoontlik. U bydrae kan binne-in hierdie krisis die boodskap van die krip na hulle vat wat dit die nodigste het.  Mag u dit dan ook in hierdie feestyd beleef:  MAAR, die Kind ...

 

'n Taalles dan: MAAR - 'n Voegwoord, of konjunksie, wat gebruik word om sinne saam te voeg; 'n samewerkende teenstelling; om twee konsepte teen mekaar te stel ten doel om dit uit te klaar, uit te brei of te konfronteer.

Op sigwaarde blyk MAAR, 'n onbeduidende klein woordjie te wees. In wese egter, het dit die inherente vermoë  om betekenis onherroeplik te verander. Dit stel dit wat is en transformeer dit ... Dit klaar uit, brei uit, konfronteer ...

In hierdie oënskynlik eenvoudige voegwoord kon seemanne in die afgelope maande binne hul surrealistiese realiteit hoop vind.  Hulle kon, soms vasgevang in verstikkende donker, in absolute hopeloosheid herinner word aan MAAR ...

Onthou u die vuisvoos manne van die DALI? Onthou u hoe hulle met 'n klein gebaar van Chris, iets kon beleef van, ‘MAAR God...’?

Onthou u die tragedie in Richarsbaai? Onthou u die vyftien man sterk bemanning wat verslae, verward, verbysterd en verlangend na normaliteit in die eetsaal vir Loffie gewag het nadat een van hul maats sy eie lewe geneem het? Onthou u hoe hulle ten spyte van die ergste van dinge in die Brood en Wyn wat Loffie dae later aan hulle sou bedien, iets kon beleef van, ‘MAAR God...’?

Onthou u die melancholiese refrein in elk van die stories uit Durban, die Kaap en Port Elizabeth; die stories van seemanne geskryf in mineur akkoorde, saamgeflans in donker note van hopeloosheid en moed opgee?

MAAR, onthou u dat daar in elk van die stories 'n goue draad was? Onthou u dat elke besoek opnuut herinner het aan 'n waarheid wat realiteit onherroeplik verander, dit transformeer en konfronteer? Vervleg in elke tragedie is die storie van die Man aan die Kruis; die storie van léwe na die kruis; van hoop. Dis die storie van, 'MAAR God ...''

En so is ons bloot instrumente. Instrumente wat elke dag kan herinner, kan help transformeer en soms selfs konfronteer met die radikale andersheid waardeur 'MAAR God' ons dinge laat verstaan en sien. Bydraes van donateurs het oor die afgelope maande ons hande sterk gemaak om dag na dag om te sien na die harte van seemanne deur hul opnuut bewus te maak van hierdie dikwels vergete waarheid. 

En daarom twee dinge - Eerstens, dit: Oorweeg asseblief om ons finansieel te ondersteun. In 'n wêreld waar seemanne vasgevang is in 'n kritieke, soms noodlottige situasie, is ons werk dringend nodig ten doel om seemanne hoop te gee omdat daar 'n MAAR in elke storie is. U donasie kan die instrument wees waarmee ons dit doen.

Tweedens dan: Ek weet nie waar U uself nou bevind nie. Dalk is dit êrens vasgevang in verstikkende donker, in absolute hopeloosheid. MAAR, God is ook waar u lewe afspeel. 'MAAR God' is ook vir u. Mag 'MAAR God' vir u 'n realiteit wees, soos wat dit elke dag vir so baie seemanne 'n realiteit is.