'n Boodskap van CSO hawewerker Nico van Rensburg.

Swart erts stort skouspelagtig in die donker dieptes van die skip in. Die oopgesperde mond slurp honger aan die tonne en tonne mangaan. Uur na uur en vrag na vrag word die skip se honger geleidelik gestil sodat die boeg nou diep in die water lê. Uiteindelik versadig rol die swaar deksel knarsend toe en seël die vrag van water en lig. Die vrag word ingeperk en gegrendel vir die reis na China.

'n Boodskap van CSO hawewerker Loffie Schoeman.

Die woedende chaos benadruk kontras. Die hart se leksikon en die Covid-19 woordeboek kan beswaarlik meer uiteenlopend wees. Die virus-woordeboek dikteer woorde soos angs, vrees, donkerte en afstand ... veral afstand. Die taal van die hart weer is een van lig, nabyheid en intimiteit - dis radikaal anders ...

Maar, dit wil asof die donker onweerswolke opnuut 'n lig skyn op die hart. Dit wil asof daar 'n kousale verband bestaan tussen donker en lig, tussen afstand en nabyheid – asof die een die ander aksentueer. Dit blyk 'n konstante, die twee kante ... 

Die seeman wat voor Loffie sit beleef dit als in een. Afstand, nabyheid.  Woede, vrede. Lig, donker.  Hartseer ... hartbly.  Waar hy op die dek sit is hy ontroosbaar. Woorde is arm ... dit skiet kort om sy gebrokenheid te verpleeg. Want, hoe troos jy die ontroosbare? Geen woorde sal sy pa terugbring nie.  Geen woorde sal die afstand oorbrug na sy familie wat hartgebroke aan die anderkant van die wêreld nie net 'n pa, oupa en man begrawe nie, maar ook akuut bewus is van die leë stoel en bed van hul seeman seun en pa.  

Dis asof die afstand 'n bewustheid bring van hoe naby jy leef aan hulle wat jy liefhet. Dis asof die donker van die situasie 'n opnuut besef bring van die lig - asof die onheil en die vrees in ons wêreld ons opnuut die intensiteit van ons hartstaal laat besef.  In die goeie tye gaan ons mak om met die hart, verwaarloos dit selfs. Maar, teen donker is lig die heel sigbaarste, die mees intensste.  

En teen die agtergrond van sy pa wat oorlede is en hy wat weens die virus duisende kilometers van sy familie gestrand is ontdek hierdie seeman juis hoe intens mens kan liefhê, hoe intens mens kan omgee – hy ontdek weer die dieptes van die hart.  

Maar, hy ontdek ook dit: Teen die donker klink daar 'n stem op wat onmiskenbaar hoop gee. Teen die agtergrond van afstand, vrees en angs is die stem duidelik. En as Loffie dit deel is dit soveel meer as bloot woorde. Dis tasbaar, teenwoordig, werklik ...

Wees stil en weet, Ek is die Heer.
Wees stil en weet, Ek Is.
Wees stil en weet.
Wees stil.
Wees