Laat daar dan hoop wees, want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee wat sal heers en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors...

Laat daar dan ook hoop wees, vir Gregori wie se lyftaal afgemat en oormoeg is.  In Durban vertel hy vir Nico stories uit die mees onlangse inskrywings in sy lewens-inventaris.  Sy verlede is deurmekaar en soms onsamehangend, gestileer met byvoeglike naamwoorde soos hartseer, depressief, gespanne, hopeloos.  Hy is van 'n klein dorpie langs die Swart See, ongeveer tweehonderd kilometers van Odessa.  Daar is 'n vrou wat hy bitterlik liefhet, 'n dogtertjie uit 'n vorige lewe, Covid19 wat 'n doodspoor gelos het, skeepsvaart wat die stukkies van sy lewenslegkaart oor die aardbol gestrooi het, hy wat aan die suidpunt van Afrika in 'n hawe sit waar hy geen iemand het nie – dit alles saamgeklits in 'n lewe ...

Maar wat sê mens, hoe troos jy, verpleeg jy die wonde  van 'n lewe waarvan sommige rou sit, ander al hardnekkige letsels.  Dis mos DJ Opperman wat dig: 'watter raad of watter ster sal ek jou wys, om veilig deur die grysland heen te reis?’ Met die advent van 'n nuwe jaar, is die opwinding meestal momenteel.  Die versoeking is groot om maar eerder in die as en roet van die grysland te leef, om maar weer te verval in die mineur note wat die lewe opgedis en saamgeklits  het. 

Maar, laat daar dan hoop wees, want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee wat sal heers en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors…

Dis al wat Nico vir Gregori kan gee.  Dis al wat oorbly, gestroop van alles.  Ons kan maar net hoop, hoop op Hom wat die lewe gee en die lewe neem.  Dis dit.  Daar is 'n definitiewe keuse om te bly Hoop.  Daar is 'n definitiewe keuse om te bly Glo – om te bly liefhê.

As Nico saam met Gregori sit, is dit nie om vir Gregori te oortuig dat hy moet hoop, glo en liefhê volgens Nico se voorskrifte nie, maar eerder omdat Nico nog Hoop, nog Glo, nog liefhet.  Omdat hy glo en hoop op die een van wie geskryf is:  Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors…

Donateurs en vriende help elke dag seemanne om te onthou van Hoop. Dis die mees kragtigste iets wat ons kan doen in hierdie mengelmoes bestaan.  Namens elkeen wat as gevolg van hulle bydrae iets van Hoop beleef het, ontsettend dankie.

Mag julle dan ook in die nuwe jaar aanhou hoop en beleef dat daar 'n Ewige Vader is wat oor jou waghou.