Dis vuil. Taai bruin stof warrel onheilspellend in die kil wind wat in die Baai waai. Dit kleef aan als. Wanneer Danie laag buk om verby die kabels wat oor die trapleer hang te kom, skuur sy baadjie teen olie en ghries sodat daar nou 'n hardnekkige swart vlek sit wat diep in die materiaal ingeëts is en 'n permanente kenteken van hierdie dag sal wees.  Ervaring het geleer dat so 'n olievlek vir ewig is.

Demitri, wat die inteken van besoekers behartig, staan die onderonsie tussen Danie, die kabels, die oliekol en die nou vernielde baadjie en dophou vanaf die dek. Met die inteken skerts hulle oor hoe niks in 'n hawe ooit skoon is nie.  Van daar af vind Danie sy pad na die eetsaal waar hy die eerste Kersboom van die jaar sien pryk. Groen, plasties, sommer so skeef opgeslaan met 'n paar net-net versierings uit papier geknip...

Seemanne kom en gaan en later kom Dimitri ook soek na iets te drinke. Dis met rede, vind Danie gou uit. As Danie eindelik alleen is staan Dimitri versigtig met 'n tikkie onsekerheid nader. Eers gesels hulle oor dit en dat, dan later weer oor die baadjie waar die oliekol steeds vir altyd sit. En daarin, onverwags, is daar 'n aanknopingspunt. So, sittend langs die groen Kersboom, vertel Dimitri van sy verlede, van oliekolle wat ingeëts in sy storie, permanensie gekry het sodat hy nie daarvan kan ontsnap nie. Sy storie is morsig.  Hartseer.  Oorweldigend.  

So in die dikwels vergete storie agter die plastiek Krismisboom, kan Danie aansluit. Gebore in die stank en vuil van 'n stal, uiteindelik gekruisig. Morsig, hartverskeurend, 'n oorweldigende smeekroep van die kruis, maar steeds die vlekkelose Lam ...

Dis wat die Kind van die Krip vir Dimitri kom doen het. Dis wat die Man van die Kruis se opoffering was, sodat Dimitri wit gewas kan word, soos sneeu. Deur die bril van 'n krip en 'n kruis lyk Dimitri se lewe radikaal anders en op hierdie oggend in sy gesels met Danie, is hierdie nuwe perspektief brood nodig. Dis nie 'n towerstaf wat alles net regruk nie, stem hulle saam, maar dit bring 'n ander dimensie aan jou storie, aan jou vuil, aan jou oliekolle...  

As hul later saam bid, Dimitri nou met 'n nuwe Russiese Bybel toegerus, verklaar hy dat wanneer hy oorweldig word, hy hier in die skadu van die plastiekboom sal kom sit om herinner te word aan die Krip, aan die Kruis.  

Ons donateurs maak die verhaal moontlik. Hulle bring in hierdie Kerstyd die krip en die kruis na seemanne soos Dimitri. Daarvoor, ontsettend dankie. Mag julle ook in hierdie feestyd in elke plastiek Kersboom herinner word aan 'n krip en aan 'n kruis wat ook vir julle daar is.