'n 'Ping' geluid saam met 'n kriewelende vibrasie kondig aan dat daar nuwe pos op Danie se WhatsApp is.  Die kennisgewing met die sender se naam en 'n klein profielfoto daarop wat op die tuisskerm flits, laat Danie met dringende vingers die kode indruk om die boodskap te ontsluit.  Dit kom van duskant die wêreld, van ver oor die see.  As Danie dit lees, glimlag hy verlig.  Dis nuus waarvoor hy gewag het en waarvoor hy nou al maande bid. 

Die oorsprong van die storie lê 'n paar maande terug in die aankoms van 'n reuse ysterertsdraer in Port Elizabeth.  Danie bring besoek en skaars op dek, word hy na die kaptein se kantoor ontbied.   Dit was al asof die kaptein wagtend sit en uitkyk het oor die kaai, hoopvol en in afwagting vir iemand wat uit die niet verskyn, vir daardie iemand om dan die honderd of wat trappies skip-op te klim, en vir daardie iemand om dan boonop nog die regte persoon ook te wees ...

In by die deur van die kapteinskantoor was dit vinnig duidelik dat dit wat die kaptein saam hom dra ryp is, soos 'n rooi granaat.  Hy moes dringend praat, dit uit sy sisteem kry. Die geheim het te swaar geraak om alleen te dra.  Die simptome wat die gesoute seeman afrits is klassiek van angs. Rusteloosheid, daardie gevoel dat jy op die rand van 'n grusame afgrond staan, vinnige moegheid, bekommernisse wat net nie wil wyk nie en nagmerries van sy skip wat sink en deur die diepste duisternis verswelg word.  Angs laat mens in 'n onkundige toestand. Dit glo dat alles 'n noodgeval is.  Dit maak nie môre leeg van sy smart nie, maar maak eerder vandag leeg van sy krag.  En dit som die kaptein se noodkreet op.

En hierdie noodkreet is die begin van hom en Danie se pad saam.  Saam deur lande en oor oseane totdat Danie hierdie boodskap op sy skerm kry:  “Ek is tuis, by vriende en familie waarmee ek kan gesels. Dit gaan beter met my. Dankie, dankie, dankie vir alles!!!“  Daardie eerste dag op die skip het hy vertel hoe lank hy al hieroor wou praat.  Maar met wie sou hy dan praat?  Daar is baie mooi praatjies oor geestes-gesondheid in die industrie.  Die realiteit is egter dat as jy eers 'n litteken van 'angs', 'depressie' of 'emosioneel onstabiel' aan jou lyf dra, 'n volgende kontrak 'n onwaarskynlikheid is. Daardie eerste dag het hul saam gebid oor die oop Bybel op die kantoortafel.  Dit was maar net die eerste van baie praat, van baie bid en van aanhou hoop.

En dis wat ons by CSO doen.  Ons stap 'n pad as dit nodig is en ons stap daardie pad in die naam van die Een wat ons kom leer het van omgee, van liefde, van genade en hoop...  Om dit te doen het ons donasies nodig.  Wil u dit nie asseblief biddend oorweeg om hierdie werk van ons finansieel te ondersteun nie?  Dit maak 'n verskil in baie lewens.

Die atmosfeer is aanvoelbaar elektries.  Dit lag en gesels - glimlagte breed, energie bruisend, uitgevat in hul beste.  Hoe lank sien hulle nie nou al uit na hierdie dag nie!  Dis nou maande, vir party so lank terug as 2021,  vandat hulle laas aarde onder hulle voete gehad het.   Hawe na hawe, word alles van Covid, tot die oorlog aan die duskant van die wêreld, tot die bui van die hawemeester as genoegsame rede gesien om te keer dat hulle aan wal kan gaan.

Maar nou, nou is hier 'n kans om van die skip af na die strate, strande en winkelsentrums van Port Elizabeth te ontsnap.  Dis meer as 'n kans om sommer net ietsie by die winkel te gaan koop – dis 'n kans om te sien hoe die 'normale’ wêreld weg van die ballingskap van 'n skip daarna uitsien.   Dis 'n kans om mense te sien – mense met al hul geite en grille, hul wonderlikhede, hul glimlagte, hul goed, hul sleg ... want selfs om mense te sien raak 'n luuksheid.

Danie staan en geselsies maak, slag gereed om saam met die span seemanne die strate in te vaar.  Elkeen het 'n doending op sy wenslys.  Danie hou sy lyf toeroperateur en hy gaan moet bontstaan om by al die versoeke uit te kom.

Maar dan kom die nuus as die agent die lang trappe van die kaai tot op die dek opstap.  Dit gaan man-man amper 'n duisend rand en nog kos om hul voete by die hawehek uit te kry.  Covid verklarings, die Departement van Gesondheid, immigrasie en 'n rits ander kleinighede wat tot 'n reuse bedrag optel.  Dis asof die nuus al die suurstof in die heelal in 'n oomblik opslurp.  Die teleurstelling is enorm, pynlik selfs.  Die som is kinderspeletjies, die antwoord eenvoudig: Kan hulle geld bestem vir hulle gesinne, vir hul kinders se skool, vir kos by die huis, spandeer om 'n draai in die stad te gaan maak?  Die antwoord; ondubbelsinnig nee.

In die nou baie anders atmosfeer as oomblikke terug probeer Danie troos.  Hy is vinnig om in die CSO stoor te gaan grawe om darem vir elkeen 'n geskenkie te gee en vir die wat bestellings plaas winkel toe te ry as teenvoeter vir hulle teleurstelling en frustrasie.

Later, as almal bietjie afgekoel het en daar weer suurstof in die atmosfeer is, gesels Danie lank met hulle.  Hy kry kans om saam met hulle rondom 'n Bybel te praat.  Hulle praat oor opoffering.  Oor wat elkeen opoffer om vir hulle by die huis te sorg.  Op 'n manier vloei die gesprek natuurlik in die rigting van Hom wat die grootste opoffering ooit gemaak het – oor hoe Hy daardie opoffering vir elkeen aan boord gemaak het ... En skielik is die dag wat so anders as beplan uitgedraai het, veel beter.  Hulle kan saam bid – vir elkeen se wenslysie, vir elkeen se sorge, se familie, vir alles waarvoor die manne elke dag opofferings maak, en dit teen die agtergrond dat Iemand vir hulle 'n veel groter opoffering gemaak het.

Ons geloofshelde, u ons donateurs, bring daagliks die boodskap van die Grootste Opoffering na seemanne.  U ondersteuning laat ons by CSO toe om daar te wees om hand by te sit as die manne van die see moeg, oorlaai en gefrustreerd is.  Dit is vir hulle van onskatbare waarde.

Dankie daarvoor!

Draai terug en gaan doen jou werk...

Dit is beslis nie altyd maklik om op te staan en aan te gaan as jy moedeloos voel of is nie. Dit is asof jy nie krag het om iets te doen of selfs jou arms op te lig nie. Wat dan nog van aangaan en werk en leef?

Dit was Elia se kleivoete. Hy tree op as profeet in die tyd van Agab. Die koning se vrou Isebel het afgodsdiens in die land ingebring. Elia vermaan die volk en die koning daarteen. Uiteindelik daag hy die profete van Baäl uit om ‘n toets te doen om te sien wie eintlik God is. Die Here van die volk of die afgod Baäl. Na die gebeure laat hy al die valse profete om die lewe bring.

Isebel was woedend. Sy laat vir Elia weet dat sy hom ook om die lewe gaan bring. Hy moet vlug en beland in die woestyn waar hy onder ‘n besembos inkruip en wens hy gaan dood.

Dit is dieselfde Elia wat kort te vore die hoogtepunt van sy lewe beleef het. God het gewys dat Hy die Enigste Lewende God is. Dit was ‘n triomf. Kort daarna sit Elia moedeloos onder die skrapse skaduwee van die besembos in die woestyn. Ek wens ek was dood. 1 Konings 19:4

Die Here doen inderdaad vreeslik baie moeite om hierdie profeet terug te lei dat hy weer sy roeping moet besef en dat hy weer perspektief moet kry. Draai terug en gaan doen jou werk, sê die Here vir Elia. Moenie hier sit en teem nie. Gaan werk.

Die skepe is vol seemanne wat moedeloos is - asof hulle self onder 'n besembos wil sit. Daar is baie oorsake daarvoor. Soos die Here met Elia gepraat het, gebruik ons by CSO ook die Here se Woord om hulle te bemoedig. Hulle hoor dat hulle in genade ook soos Elia weer kan opstaan en gaan werk. Hulle hoor dat hulle die roeping kan gaan leef wat God vir hulle gegee het.

In die verhaal is jy ook ‘n geloofsheld – juis omdat jy meewerk sodat die seemanne die Here se Woord kan hoor. Kom ons hou almal saam ook aan om ons eie roeping teenoor, nie net die mense rondom ons nie maar veral die seemanne in ons hawens uit te leef.

Om 'n maandelikse donasie deur middel van debietorder te gee, kliek hier om die debietordervorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.

Onsekerheid is 'n roofdier.  Dit skuil behendig buite sig, bekruip jou rats en laat jou lyf in 'n staat van weifelende hoogspanning.  Sy dodelike kloue is 'nie weet nie’, wat alomteenwoordig, verswelgend om jou rondhang.  Dit steel behendig die vaste grond onder jou voete en laat jou glo dat enige iets, uit enige rigting, op enige gegewe oomblik kan skeefloop ... 

Die roofdier is soos 'n mineur refrein deur die derde offisier uit Oekraïne se storie ingeweef.  Die dinge wat voor sy deur gestapel lê, is meer as wat baie ander in 'n leeftyd sal moet hanteer.  Elke afdraaipad wat hy vat om te probeer ontsnap loop dood in 'n onmoontlike onsekerheid.  

Sou hy nou hier uit Durban 'n vlug terug huis toe vat, sal hy soos ander die wapen moet opneem.  Wanneer iemand jou woordeloos 'n Koloshnikov in hand stop, skreeu die onderskrif ondubbelsinnig:  Hierdie ding is vir doodmaak!  Dis nie vir 'cops’ en 'robbers’ speletjies nie.   Dis vir uitwis. 

Sy familie het na Europa gevlug.  Waar huis nou is, is onseker.

Soos dit is as die kaarte teen jou gestapel is, is van sy mede-bemanning Russies.  Die verhouding tussen hulle is steeds goed, maar die situasie is buitengewoon moeilik. Rasioneel, het hul met dit wat in Oekraïne afspeel niks te doen nie, maar emosioneel wil-wil jy tog die blaam 'n baas kry.  

Chris kan maar net luister - dis hoekom hy die skip besoek.  So dikwels is die woordeloosheid van luister onskatbaar baie werd.  Oor oplossings gepraat, kom die seeman tot 'n somber gevolgtrekking ... 'Only death...’ sê hy desperaat oor wat dit sal vat om Putin te stuit. 

Eindelik klaar geluister kan Chris sagkens, met medelye en omgee die versekering gee dat hy sal aanhou bid.  Hy kan ook vertel van die Man van die Kruis: 'n Man van medelye en omgee.  Dis dié Man wat stop by die verlamde een waarby almal verbyloop, hy wat Jairus se dogtertjie gesond maak.  Ja, dit is 'n onmoontlike situasie, maar u en my God, is die God van die onmoontlike. 

Finansiële bydraes maak dit vir CSO moontlik om seemanne daagliks te herinner aan die een Sekerheid midde in die onsekere.  As resultaat daarvan ontdek party 'n Helper en Redder, terwyl ander liefde en hoop ervaar. Wil u dit nie asseblief biddend oorweeg om ons met 'n donasie te ondersteun nie?  God gebruik CSO daagliks kragtig om die mense van die see met die Evangelie te bedien.  Daarvoor het ons ook u hulp nodig.