Die atmosfeer is aanvoelbaar elektries.  Dit lag en gesels - glimlagte breed, energie bruisend, uitgevat in hul beste.  Hoe lank sien hulle nie nou al uit na hierdie dag nie!  Dis nou maande, vir party so lank terug as 2021,  vandat hulle laas aarde onder hulle voete gehad het.   Hawe na hawe, word alles van Covid, tot die oorlog aan die duskant van die wêreld, tot die bui van die hawemeester as genoegsame rede gesien om te keer dat hulle aan wal kan gaan.

Maar nou, nou is hier 'n kans om van die skip af na die strate, strande en winkelsentrums van Port Elizabeth te ontsnap.  Dis meer as 'n kans om sommer net ietsie by die winkel te gaan koop – dis 'n kans om te sien hoe die 'normale’ wêreld weg van die ballingskap van 'n skip daarna uitsien.   Dis 'n kans om mense te sien – mense met al hul geite en grille, hul wonderlikhede, hul glimlagte, hul goed, hul sleg ... want selfs om mense te sien raak 'n luuksheid.

Danie staan en geselsies maak, slag gereed om saam met die span seemanne die strate in te vaar.  Elkeen het 'n doending op sy wenslys.  Danie hou sy lyf toeroperateur en hy gaan moet bontstaan om by al die versoeke uit te kom.

Maar dan kom die nuus as die agent die lang trappe van die kaai tot op die dek opstap.  Dit gaan man-man amper 'n duisend rand en nog kos om hul voete by die hawehek uit te kry.  Covid verklarings, die Departement van Gesondheid, immigrasie en 'n rits ander kleinighede wat tot 'n reuse bedrag optel.  Dis asof die nuus al die suurstof in die heelal in 'n oomblik opslurp.  Die teleurstelling is enorm, pynlik selfs.  Die som is kinderspeletjies, die antwoord eenvoudig: Kan hulle geld bestem vir hulle gesinne, vir hul kinders se skool, vir kos by die huis, spandeer om 'n draai in die stad te gaan maak?  Die antwoord; ondubbelsinnig nee.

In die nou baie anders atmosfeer as oomblikke terug probeer Danie troos.  Hy is vinnig om in die CSO stoor te gaan grawe om darem vir elkeen 'n geskenkie te gee en vir die wat bestellings plaas winkel toe te ry as teenvoeter vir hulle teleurstelling en frustrasie.

Later, as almal bietjie afgekoel het en daar weer suurstof in die atmosfeer is, gesels Danie lank met hulle.  Hy kry kans om saam met hulle rondom 'n Bybel te praat.  Hulle praat oor opoffering.  Oor wat elkeen opoffer om vir hulle by die huis te sorg.  Op 'n manier vloei die gesprek natuurlik in die rigting van Hom wat die grootste opoffering ooit gemaak het – oor hoe Hy daardie opoffering vir elkeen aan boord gemaak het ... En skielik is die dag wat so anders as beplan uitgedraai het, veel beter.  Hulle kan saam bid – vir elkeen se wenslysie, vir elkeen se sorge, se familie, vir alles waarvoor die manne elke dag opofferings maak, en dit teen die agtergrond dat Iemand vir hulle 'n veel groter opoffering gemaak het.

Ons geloofshelde, u ons donateurs, bring daagliks die boodskap van die Grootste Opoffering na seemanne.  U ondersteuning laat ons by CSO toe om daar te wees om hand by te sit as die manne van die see moeg, oorlaai en gefrustreerd is.  Dit is vir hulle van onskatbare waarde.

Dankie daarvoor!