Die ontvangs is kil. Die wag is groot van statuur, bot, en doen dinge volgens die boek.  Wat volg is 'n gedetailleerde ondervraging om die presiese rede vir Danie se besoek te bepaal. Danie staan Bybel in die hand en verduidelik, maar dit blyk min indruk te maak nie. Die wag besluit om toestemming vir die besoek van hoër gesag te kry.

Terwyl Danie met Job se geduld wag vir 'n ja-woord, skarrel seemanne doelgerig oor die dek.  Hulle is almal uit Oekraïne. Danie vertel dat selfs in hoe hul, hul dagtaak verrig die wonde van 'n verwoestende oorlog sigbaar is.  Op elke gesig, is die spanning onwegsteekbaar merkbaar.  Oorlog gebeur nie tussen landsgrense nie.  Dit woed onverpoos voort in elkeen wat daar op die dek doenig is. Die frustrasie, woede en onsekerheid word saamgedra en aangevuur deur elke nuwe nuusberig. Net as Danie hom op moedverloor se vlakte bevind, swaai die staaldeur voor hom oop.

'n Jong man, ook groot van statuur skuur skouers met die deurkosyn soos hy op 'n drafstap oppad is na buite.  Naas sy grootte, is die eerste ding wat mens raaksien 'n prominente kruis aan 'n ketting wat swaar om sy nek hang.  Vir 'n oomblik ontmoet hul oë.  Maar, dis die bekendheid met die boek in Danie se hand wat 'n lig in die seeman laat aangaan en hom die pas laat makeer.  In die reuse kruis om sy nek en die kruis op die Bybel in Danie se hand is daar 'n simbiotiese gemene deler. 

"Aleksander", stel hy homself voor.  Sonder nog dat Danie 'n woord gesê het is dit duidelik dat Aleksander verstaan hoekom Danie daar is.  Nou's Aleksander op die radio, en oomblikke later stap Danie saam met hom die skip in. Die tydsberekening is perfek, en in die eetsaal slaan die een na die ander seeman uit vir middag-ete.  Dit vat nie lank vir die gesprek om 'n somber oorlog-wending te neem nie.  Met Aleksander daar vloei die gesprek van daar natuurlik na geloof.  Dis nie net dat dinge by die huis aan flarde is nie, daar is ook 'n diep en ware soeke na waar God in al hierdie chaos is.  'My God, my God, waarom het U ons verlaat?' klink deur hul stories. 

Twee kruise het die staaldeur van die skip vir Danie oopgemaak.  Maar, die verhaal eindig nie by die Kruis nie.  Daar is ook die belofte van Hemelvaart, een van hoop en troos, en die versekering dat ons nie weeskinders is wat agtergelaat is nie.  Vir elke seeman uit Oekraïne, is God steeds daar en teenwoordig deur sy Gees.  Daarom kan ons met sekerheid ons oë opslaan na die hemel, en weet waar ons hulp vandaan kom.  Met die afstap beaam Aleksander hoe belangrik dit vir elkeen aan boord was om dit weer te hoor. 

Elke donasie ontvang bring die boodskap van die Kruis, maar ook die belofte van Hemelvaart dat ons nie weeskinders is wat alleen agter gelaat is nie.  Daarvoor wil ons dankie sê en ook ons hoop uitspreek dat u in hierdie spesiale tyd die teenwoordigheid van God in u lewe sal ervaar.