Dis 'n tyd van nodige refleksie.  Mens sal tog nie nuwe wyn in ou sakke gooi nie?  Daarom juis die momentele stil-word om die jaar se telkaart op te stel en die resultate te weeg en te meet.  2022 was 'n jaar van baie dinge.

In die seeman-wêreld was die hoop dat die stormwolke van Covid19 sommer vroeg sou gaan lê en dat die skerwe opgetel en heelgemaak sou word.  Maar, dit wat in skerwe lê, kan selde sommer goedsmoeds herstel word.  Hoe vergeet jy dat 600 000 seemanne oor die wêreld heen gevange geneem is deur die dodelike, onsigbare monster.  Hoe vergeet jy hoe die een na die ander grens voor hul toegeval het terwyl lughawens spookdorpe was en vliegtuie staan en stof opgaar het.  Vir baie was die prys veel hoër ...  Ma’s, pa’s, oumas, oupas of 'n vriend wat slagoffer was van die virus het leemtes gelaat wat beswaarlik ooit gevul sal word.  Dit is nie goed wat jy sommer net afskud nie.  Dis ewige letsels.  

Maar CSO was daar om te help.  Daar, omdat donateurs ons bemagtig het om daar te wees.  

En dan voor die jaar lekker op spoed kom, rol die militêre grofgeskut van Rusland die Oekraïne in.  Skielik is 6% van die wêreld se seemanne wat uit die twee lande kom, verbind aan 'n woedende oorlog. Die stories is katastrofies en hartverskeurend.  Seemanne wat nuus ontvang dat hul huise van die aarde gevee is, dat hul familie die vreemde in moes vlug of dat iemand naby hulle 'n grudood gesterf het aan die hand van magsdronke heersers.  

Maar CSO was daar om te help.  CSO kon daar wees as gevolg van bydraes van donateurs.

Ons dink terug aan die ekonomiese krisis wat Sri-Lanka in chaos gedompel het en aan die seemanne van daar wat moedeloos ons hawens besoek het.

Ook daar was CSO om te help.  Daar, omdat donateurs dit moontlik gemaak het.  

Met die tifoon in die Filippyne, en in 'n duisend ander stories kon CSO 'n rol speel omdat ons hande sterk gemaak is deur u bydrae!  In 2023 sal ons die Evangelie aanhou verkondig, aanhou om 'n aktiewe rol te speel om draers van hoop te wees.  Ons kan dit doen, omdat ons toegewyde donateurs het waarvoor ons oneindig dankbaar is.

Ontsettend dankie vir u bydrae en mag 2023 'n jaar van ryklike seën wees.