Die kepe op sy kerfstok staan op 'n skamele vyftien.  Die eerste daarvan was waarskynlik die moeilikste en seerste - dag een weg van sy beminde bruid.  Na 'n paar maande op die wal, is die realiteit van terug wees op die drywende ysterkolos, in die peinsing op sy voorkop en die lyne langs sy oë te bespeur.  Die onafgemerkte kerwe op die merkstok staan net so duskant een-honderd-en-vyftig.  Dis die aantal dae wat hy hier op die skip sonder haar sal wakker word.

As Chris die derde offisier in Durban ontmoet, het hy nie 'n graad of 'n spesialis nodig om tot 'n diagnose te kom dat dit erg hinkepink met die man uit Indië gaan nie.  Sy lyftaal skreeu moedeloos, magteloos en moeg.  Sy leë oë, staar in die niks in, is opsigself 'n somber verhaal wat jou 'n prognose van spoedige beterskap in twyfel sal laat trek.

'Dis nou eers dag vyftien', sê hy swaar en afgemete asof die gewig van sy stelling ondraaglik is.  Hy is stil en Chris verwag eintlik dat hy enige oomblik sal opstaan en in die wandelgange van die ysterskip in sal verdwyn.  

Maar, hy sit.  Hy probeer om vir Chris die implikasie van seeman wees te verduidelik.  Hy probeer met drif verduidelik hoe dit is om weg te wees van dié waarvoor jy lief is.  Chris kan maar net probeer verstaan.  Hy kan bemoedig, daar wees, luister, bid.

Dit klink so non-essensieel.  Dit klink so eenvoudig.  Maar dis so raar.  Om iemand te kry wat regtig, sonder 'n drukkende polshorlosie of persoonlike agenda na jou kan luister, is selfs op land uitdagend.  Hoeveel te meer dan nie as jou lewe afspeel op die oop see in die benoudheid van 'n reuse skip waar daar maar 'n handvol kollegas saam jou ronddobber nie.  

As Chris wegstap, verduidelik die seeman met 'n halwe glimlag, dat Chris se besoek die hoogtepunt van die 15de dag kepe op sy kerfstok is.  Dis hoe groots dit is as iemand bereid is om na jou te luister ...

Daarvoor, ontsettend dankie.  Donateurs maak elke dag, deur wat dikwels verkeerdelik as onbelangrik en eenvoudig gesien word, 'n reuse verskil.  Soms is daar juis hoop in die kleinste handelinge en in elk van hierdie klein oomblikke kom die Koninkryk van God tot wording.