Eintlik moet jy vandag tyd maak om Genesis 21 te lees.  Dit is die verhaal van Abraham, Sara en Hagar.  Hagar kry ‘n seun by Abraham.  Sara raak jaloers en beveel vir Abraham om Hagar en Ismael weg te stuur.  Daar is die twee toe die woestyn in.  Dit gaan so sleg dat Hagar haar seun onder ‘n bos neerlê om te sterf.

Die teksvers sê dan:  Die Here het die kind gehoor.  God gee toe uitkoms. 

In die skrifdeel en die verhaal van die drie mense, staan dit baie duidelik.  My Here hoor.  Die Here hoor vir Abraham.  Sy versugting na ‘n kind van sy eie.  Vir baie lank het Abraham gewag.  Hy hoor die pyn van ‘n leë vaderhart.  Die Here hoor sy pyn oor sy kind wat hy moes gaan offer.  ‘n Pa-hart wat skreiend ten hemel skreeu.  My kosbare kind!

Die Here hoor ook Sarai se versugting na ‘n kind en haar leë moederskoot.

Die Here hoor vir Hagar, haar pyn as sy die woestyn ingejaag word en van haar eienares af wegvlug daarheen.  Hy hoor haar angs as sy haar eersteling-kind onder ‘n bos gaan sit sodat hy van honger en dors moet sterf. 

Die Here hoor jou.  Daar is geen trauma en geen wanhoop van jou wat by die Here verbygaan nie.  Hy hoor jou pyn, kommer, seer en verlange vandag.  Die Here hoor.  Ongeag die draaie wat die lewe maak.  Ongeag ons planne…. 

Dit is wat die seemanne moet hoor.  Dit is wat hulle by CSO en by jou moet hoor.  My Here hoor. En dis ook wat jy moet hoor. 

Luister na hierdie pragtige lied van Rina Hugo (met toestemming gedeel)
MY HERE HOOR.
Album: Die Nuwe Jerusalem.