"Hoe gaan dit met jou?" vra Chris aan die jong gesig agter die masker waar hy aan die bopunt van die trapleer op die African-Tern besoekers inteken.  Dit blyk 'n eenvoudige sleutel te wees – een wat die somber sinisme waarmee die seeman elke aankommer mee meet, verander in 'n glimlag wat verklap word deur die lagplooie om sy oë. Snaaks wat 'n vraag kan doen.  

"Wat het jy nodig, hier, vandag, nou?" is die vraag wat 'n jong Turkse seeman in Port-Elizabeth in sy spore laat omdraai. Dis 'n vraag wat hy lanklaas gehoor het. 'n Vraag wat in hom belangstel en iets openbaar van besorgdheid na sy welstand... En, dalk verrassend, roer die eenvoudige vraag sy hart se landskap.  Dit laat Yuri met liefde en verlange vertel van sy familie in Istanboel. Dit laat hom gesels oor sy groot planne vir die toekoms en uiteindelik ook oor die onstuimigheid en worstelinge van sy geloof. Alles, die antwoord op die regte vraag.   

"Hoe gaan dit met jou familie?" maak in Kaapstad die sluise van die hart van 'n seeman uit die Fillippyne oop.  "Waarvoor vrees jy so?" die sleutel tot 'n gesprek in Richarsbaai. "Waarom huil jy?" op 'n ander dag in Koega.  Dis vrae wat soms gesprekke wat in terme van 'n lewe maar 'n sentimeter lank is, 'n myl diep maak.  

"Hoekom huil jy?" Jesus se vraag aan Maria. "Verstaan julle wat ek vir julle gedoen het?" nadat Jesus voete gewas het ...  Ongelooflik wat die regte vraag kan doen.  

Ons hier by CSO vra daagliks vrae aan seemanne.  Soms is dit so eenvoudig as 'Hoe gaan dit met jou?'. Op sigwaarde simplisties ja, maar in werklikheid kompleks.  In die seemanwêreld is dié vraag so waardevol omdat iemand dit selde vra, omdat iemand selde genoeg omgee, selde tyd te spaar het om hul harte te hoor ...

Saam met die vrae wat ons vra het ons 'n diepe oortuiging in waar die antwoord lê.  Dit lê in Hom wat vir die verlamde man sê om op te staan en te loop. Dit lê in die hoop gebou op 'n leë graf.

Wil u ons nie asseblief finansieel ondersteun om hierdie ontsettend belangrike vrae te vra nie?  U bydrae sal baie doen om die swerflinge van die see te laat onthou van die vraag van eeue terug: 'Wie is hierdie Man dan, dat selfs die wind en die see na Hom luister?'