Die chaos blyk woedend te wees.  Dis asof donker magte saamsweer om sy slagoffers gevange te hou in 'n kil plek van vrees en onsekerheid. 

Simptomaties gryp ons met eerstelig koorsagtig na die naaste toestel wat ons senuagtige hande kan raakvat om vars nuus te kry.  Die nuutste statistiek of grafiek oor sterftesyfers, infeksies, pensioene of die aandelemark, word ons rigsnoer vir die dag.  En met elke fanatiese weer kyk - is dit op, of is dit af - vreet die vrees ons vrede.  

As ons maar net midde-in ons chaos beter kon hoor.  As ons maar net kon ag slaan op die  fluistering in die windstilte .... 'Wees stil en weet: Ek is die Heer'.

Oor die platskerm tv's in ons sitkamers flits beelde van onseker oë wat straat-af loop.  Oë is al wat jy sien - die res van hul gesigte is verbloem agter steriele wit maskers.   Maskers wat die chaos moet verdryf.  Elders weer, tref die beelde van leegheid.  Wat eens wemelende toerismebestemmings was, staan nou staties in verlatenheid gehul.   Die leegheid, ook simptomaties.  Simptomaties van die chaos.     

As iemand ons tog net kan herinner aan die fluistering in die windstilte ....  'Wees stil en weet:  Ek Is.'

'Beurtkrag' roep my klein seuntjie as die donkerte ons soos 'n klapmus-rower in die nag oorrompel.  Vir hom is dit hoe dinge werk, hoe hy die wêreld leerken het.  Vroeër die middag is die toneel wat by 'n verkeerslig afspeel surrealisties.  Gestroop van sy groen, oranje en rooi patroon staan die geel paal wat moet orde handhaaf, dood, bloot ornamenteel, oor die chaos en waghou.  Die onwerklikheid daarvan om in hierdie eeu in duisternis die pad huis toe te moet negeer, skep wanhoop.  

As ek maar net die versekering kon hê van die fluistering in die windstilte: 'Wees stil en weet'. 

Daar by die ornamentele verkeerslig leer ek oor myself en ook oor die kêrel wat onvleiende vingertekens na my kant toe gooi oor hy klaarblyklik haastiger as ek is om by die huis te kom. Ek leer oor hoe verskillend ons reageer op die woedende chaos.  Hoe sommiges vuur met vuur beveg en woede hul vergrype word.  Soms is ek ook daar.  Ander weer laat dit skynbaar onaangeraak oor hulle spoel, terwyl hul somber en sinister die blaam van alle dinge aan almal buite hulself toedig.  Soms is ek ook daar.  Ander is angstig.  Ander vreesbevange.  Ander wil vlug - soms is ek ook daar ... 

As iemand my tog net kan help hoor in die fluistering in die windstilte: 'Wees stil'.

Chaos is dit waaroor ons beheer verloor het – 'n toestand van onvoorspelbare wanorde.  Dit  is 'n  skouspelagtige ontmaskering van die illusie dat ons in beheer is van alle dinge. 

As ek maar net vir 'n oomblik beheer kon oorgee en gestroop daarvan vir 'n oomblik net kon 'Wees'.

Maar chaos is vrugbaar.  Gestroop van beheer, ontnugter oor hoe klein ons eintlik is - oor wat regtig saak maak – dis daar waar ons dikwels die fluistering in die windstilte die beste hoor:  'Wees stil en weet, Ek is die Heer'.

En as ons dit raak hoor bring dit nuwe perspektief. As ons stil is skep dit, te midde van die dreigende onweerswolke, ruimte om te reflekteer.  Dit laat ons met 'n diep besef vir ons gebrek vir dit wat  ontsagwekkend is.  Gulsige harte word skielik stiller. 'n Man en vrou wat jare laas regtig met mekaar gepraat het, word geforseer om mekaar in die oë te kyk.. 'n Pa lees weer 'n boek vir sy kind ... 

Dalk is die woedende chaos 'n wekroep om ons weer te laat hoor ...