Die chaos blyk woedend te wees. Ons word smorens wakker in 'n omgedompelde wêreld waar angs en vrees kloppend by die voordeur staan.

Maar, in hierdie tyd kan ons ook meer bewus raak van die fluistering in die windstilte:  'Wees stil en weet, Ek is die Heer'. Daarom dan, wil ons by CSO u ook graag bemoedig deur in die volgende weke met u stories te deel van seemanne.  

Dis tweedoelig:  Eerstens, om u in u eie omstandighede te herinner aan die fluistering in die windstilte.  Of u nou êrens in isolasie in u kamer, woonstel of huis is en of u een van dié is wat in die voorste linie teen die onsigbare monster wat ons almal bedreig veg, elkeen moet 'n gedurige bewustheid hiervan hê:  'Wees stil en weet, Ek is die Heer'.

Tweedens dan, gaan dit ook daaroor om die kollig op dikwels vergete helde te skyn.  Wêreldwyd is seemanne vasgevang op skepe  - gyselaars van die chaos.  Op die stadium is hul nêrens welkom nie.  

Hierdie van 'n Kaptein:  'I completed my contract on 2nd March, could not sign off as we were in South Korean & Chinese ports. In Singapore today, cannot sign off as we were in China 4 days ago. I was to sign off from Colombo around the 22nd, reliever packed & ready with his ticket, as of Sunday, Colombo has suspended crew changes. Next port after Colombo is Lome, West Africa, a 3 week sailing. Just heard even they have suspended crew changes.  Dunno how long we will get stuck here.'

Feit is dat nie 'n land op aarde tans toelaat dat seemanne deur hul grense beweeg nie.  Vir hulle is elke grens gegrendel en op slot en vir die afsienbare toekoms is duisende seemanne gestrand aan boord skepe.  

Ironies dan, is dat dit wat hul op skepe bring lewens noodsaaklik is.  Dis seemanne wat verseker dat die Verenigde Nasies se voedselprogram in plek bly.  Sonder hulle sal letterlik miljoene mense sterf van die honger.  Dis hulle wat verseker dat daar wel iets op die rak is as u die noodsaaklike by Spar of Checkers gaan koop.  Dis seemanne wat verseker dat daar petrol in die ambulans is waarmee iemand in nood opgelaai word.  Daardie medisyne wat die apteker gee - ook dit het meestal per skip hier aangeland.  Hulle is 'n onmisbare skakel om ons wêreld aan die gang te hou.   

Maar, die boodskap is duidelik:  Ons soek alles wat julle bring, maar ons soek julle nie!  Dus, bring vir ons alles wat ons nodig het, maar jy sit nie 'n voet op ons kaai nie.  In hierdie chaos wil ons nie hierdie maatreëls bevraagteken nie, maar wil ons tog net vir 'n oomblik die kollig skyn op hierdie helde.  Ook hulle vrees. Ook hulle is onseker, bang ... Ons poog op allerhande maniere om ook húlle in hierdie tyd te herinner aan die Fluistering in die windstilte.  

Soos wat ons deur hierdie vreemde fase reis en u weekliks 'n e-pos van ons kry, weet dan dat daar 'n stille fluistering in die windstilte is wáár ookal u, u bevind.  Dra ook hulle in gebed wat ons wêreld aan die gang hou en bid dat hulle ook terwyl hul in hierdie onsekere tye op die groot oseane seil, iets sal beleef van hierdie woorde: 'Wees stil en weet, Ek is die Heer.'