Op die skip wil-wil dit so amper na 'n saamtrek van die Verenigde Nasies lyk. Daar is stuk of agt nasionaliteite aan boord, elkeen vanuit 'n ander hoekie van die aarde. Om die etenstafel is daar 'n heerlike geklets in al wat aksent is.  Elkeen wat Engels praat, doen dit in sy eie kinkel-klanke.

Afgesonder van die holderstebolder gebabbel sit 'n jong man op sy eentjie - hy is die enigste siel uit China.  Danie staan nader om hom ook te betrek, maar dis gou duidelik dat die man slegs Engels praat uit selfverdediging.  Dit moet komies wees om te sien hoe Danie en hy met handgebare probeer sin maak van wat nie gesê kan word nie. 

Dis eindelik wat Danie in sy knapsak ronddra wat die man se eens sterk handgebare sagter en meer gemoedelik maak.  In sy harde gesig is daar nou tekens van lag om sy mondhoeke, 'n vonkel in sy eers donker oë.

Sy hand slaan die Boek wat Danie aangee êrens in die middel oop.  Wat hy lees laat sy mondhoeke finaal in 'n glimlag trek.  Om hier, waar almal om jou 'n taal praat wat vir jou volksvreemd is, iemand raak te loop wat jou 'n boek in jou eie taal in jou hand stop is merkwaardig.

Skielik verdwyn die glimlag en maak dit plek vir vraagteken-wenkbroue. Hy vryf sy duim, middel en wysvinger teenmekaar in die universele gebaar wat vra – prys asseblief?  En dan kan Danie op sy beurt met 'n groot glimlag in sy beste gebaretaal verduidelik dat hierdie geskenk, hierdie Bybel in sy eie taal, gratis en verniet is. 

Die Bybel is tweetalig, en nou kan Danie die seeman lei na plekke in die Bybel waar verduidelik word van genade, liefde en hoop.  Skielik is daar 'n medium wat grense tussen hulle verbreek. En so, so kom onderbreek God die afsondering van 'n enkele seeman uit China met 'n Bybel.