Ons is die Here baie dankbaar dat baie van u positief gereageer het op ons pleidooi rondom die teken van debietorders, die skep van herhalende betalings op u bank profiel en gewone EFT’s. Veral as ons in gedagte hou dat ons met meer as die helfte van ons donateurs kontak verloor het agv die posstelsel wat in duie gestort het. Dit help geweldig baie om te verseker ons bedienaars is versorg en dat hulle al die middele het wat hulle benodig. 

As u nog wonder oor u donasie, lees ons nuutste verhaal - vars uit die hawe en sien watter verskil u donasie maak! 

Die lewe van 'n seeman, is 'n lewe van wag, verduidelik Mavin. Jy wag die dae verby om huistoe te kan gaan; jy wag op toestemming om die hawe in te kom; jy wag vir 'n permit sodat jy vir 'n uur of twee jou voete op moeder aarde langs die skip kan sit; jy wag om jou dogtertjie weer te kan koester en vashou na jy haar vir nege maande nie kon sien nie of wag vir 'n oproep van jou vrou terwyl jou skip momenteel opvangs het terwyl dit op anker lê.  En somtyds, somtyds wag jy ook vir God.

Onwetend dat hierdie die preteks is, kom Danie na die enorme blou-en-wit karskip aangery. Deur die voorruit is al die tekens van 'n skip wat oppad hawe-uit is, duidelik. Kanse dat die Kaptein toestemming sal gee vir 'n skeepsbesoek so kort voor vertrek is soos om te verwag dat 'n kameel deur die oog van 'n naald sal pas. Ter laaste oomblik besluit hy om tog die kar se neus in 'n parkering te druk, en die trappies na bo op te draf.  Bo gekom, word sy vermoede bevestig.  Binne negentig minute sal die skip fort wees. Die seeman by toegangsbeheer is skepties oor sy kanse om aan boord te kan gaan en is ewe verras as die Kaptein uit Oekraine se stem oor die radio kraak en verklaar dat Danie 'n blitsbesoek kan bring.  Die radio kraak 'n tweede keer, die slag om almal aan boord te vergewis van die besoeker van 'the mission’. 

Dit het skaars gebeur of 'n man kom haastig aangedraf.  'Mavin’ stel hy homself voor.  Die lewe van 'n seeman, is 'n lewe van wag, verduidelik hy.  Met 'n groot glimlag, asof hy enige oomblik sy arms om Danie gaan gooi, verduidelik Mavin dat hy op Danie se besoek gewag het.  Mavin se storie is merkwaardig.  Jare terug, is hy deur 'n reuse krisis, maar soos Mavin verduidelik, is sy storie nie die reuse krisis nie, maar eerder hoe God voorsien het en hom daardeur kon help.  Daarna het hy 'n belofte gemaak dat hy op elke skip waarop hy werk, sy mede-bemanning sal herriner aan God se trou.  Op hierdie skip, kon hy 'n Bybelstudie-groep begin wat nou sewe man sterk staan.  Hy is die enigste een met 'n Bybel en vir amper vier maande sluit hulle elke Bybelstudie af met 'n gebed: “Asseblief Here, stuur asseblief vir ons Bybels na hierdie skip toe. Amen.”  Mavin se versoek is eenvoudig:  As Danie dalk vir hom net nog een Bybel het ...

Nou is dit 'n wedloop teen tyd.  Die 90-minute is nou 70.  Uit sy knapsak haal Danie onmiddellik twee Engelse, en twee Tagalog Bybels.  Mavin is oorstelp.  Hulle gebede is verhoor!  Maar, Danie kan beter doen as dit. In 'n oomblik is Danie skip af, in die kar, haastig oppad na sy kantoor.  Daar vul hy voorrade aan, sluit die deur, draf kar toe en herhaal die proses agterstevoor.  Met minute oor, kom Danie weer by die skip se toegangsbeheer uit.  Daar staan nou 'n Bybelstudie groep wat sewe sterk is.  Uit sy knapsak kan hy nou vir die met leë hande ook elk 'n Bybel gee.  Die oomblik is heilig.  Dis 'n verhoorde gebed.  Dis 'n antwoord op die wag...

Hulle dankies en reuse glimlagte is vir elke domateur se bydrae.  Elke donasie bring die Evangelie elke dag na hulle wat biddend daarop wag. 

Die wa is nog nie deur die drif nie. Maar ons vorder! As u dit nog nie oorweeg het nie - kliek hier om die debietordervorm af te laai. Vul asb in en epos terug na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Ons bankbesonderhede is: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226. Gebruik u donateurskode as verwysing. 

Ons bly biddend vir mekaar.