Hy's 'n weeskind van hierdie wêreld, een van die vergetenes.  Sy skip word vanoggend geskuif na 'n verwaarloosde deel van die hawe waar dit verder sal verroes.  Daarin het hy geen sê nie.  Dis die ding van vergete wees – jou stem word weggewaai in die wind. 

Vir hulle in die hawe is die skuif waarskynlik 'n saak van, uit die oog, uit die hart.  Die skip, wat reeds maande in Durban 'n kopseer is, se bemanning is net een Indiër man sterk.  Aan boord is daar geen kos, geen water, badkamer geriewe of elektrisiteit nie.  Dit is dikwels so met die vergetenes ...

Net laas week ontmoet Chris met die wie's-wie's van die hawe. Die ringkoppe belowe entoesiasties blink dinge, maar as Chris die man se saak weer kom bepleit, loop hy hom vas in dolleeg mooiweer-praatjies. Skielik is almal te besig om sy oproepe te beantwoord en verdwyn sy eposse in 'n donker gat in die kuberruim.  Dis dikwels so met die vergetenes – dat hulle wat die mag het om dinge te verander, belangriker dinge het om te doen. 

Dan en wan, daag die agent van die skip met 'n paar skamele kosvoorrade op.  Dis tipies te min, en daar is geen aanduiding hoe lank dit moet hou of wanneer die 'barmhartige' eienaar weer 'n aalmoes sal stuur nie. Chris is ook daar toe die agent die laaste keer haar opwagting maak.  Dié verklaar trots dat die eienaar van die skip R800 vir kos beskikbaar gemaak het.  Sy pak die kos uit haar kar op die kaai.  Chris skat dat dit hoogstens R300 se kos is, en dat die agent se kommissie vir haar moeite 'n stewige R500 is. Dis dikwels so met die vergetenes – dat hul ook uit die bietjie wat hulle het geswendel word.

Daar is geen 'gangway' tussen skip en kaai nie, slegs 'n mankoliekige tou wat jou toelaat om, as jy jou lewe sou wou waag, tussen skip en kaai te beweeg.  Met die agent se 'goeie daad' gedoen, is sy fort, en daarom sit Chris hand by om die karige voorraad kos aan 'n tou vas te bind sodat die seeman dit dan na die dek kan hys.  Dis nou al maande, en dit sal nog maande wees ... En daagliks, as daar niemand is om voort te veg nie, word 'n vergetene so bietjie meer vergeet.  Daarom is Chris daar.  Om almal aan te hou herinner en die seeman 'n stem te gee, om kos en water te gee as die aalmoese van die agent opdroog, en die seeman 'n kans te gee om 'n oproep huis toe te maak.  Dit sal Chris elke dag doen, tot die dag wat dit nie meer nodig is nie. 

Dis wat ons by CSO doen.  Ons is, waar ons kan, die stem van die vergetenes.  Maar, meer as dit, is ons ook daar om die vergetenes te herinner aan die Evangelie en 'n God wat elkeen sien, en nooit vergeet nie.  Wanneer u 'n donasie maak, sal ons kan aanhou om die vergetenes wat ons pad kruis te versorg in dié Naam bo alle name. 

Om 'n maandelikse donasie deur middel van debietorder te gee, kliek hier om die debietordervorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.