Die teenstelling is enorm. In die skeepswêreld is dié skip die beste in sy klas, 'n moderne bastion van tegnologie en vooruitgang. Jerome, in teenstelling daarmee, beklee in die seeman-wêreld die heel laagste rang. Trouens, hy is rangloos, vervangbaar, die een wat al die skiewie werkies waarvoor die res te belangrik is moet verrig.

Ten spyte daarvan, merk Nico dadelik op dat die jong heer van Mindenau in die Filippyne, 'n ongewone aantrekkingskrag het wat ander, selfs die met rang en moue in rye blink strepe versier, soos 'n lig op 'n berg aantrek. Hy’t 'n aansteeklike energie ten spyte daarvan dat hy die minste is ...

Hy is vinnig by Nico om kennis te maak. Pa van twee, 'n seuntjie en dogtertjie, en 'n muse by die huis waarom sy lewe wentel, vertel hy met 'n vonkel in sy oog, maar tog ook 'n opwelling in sy stem. Want sy alles, dié waarvoor hy so lief is, is ver en die wêreld waarin hy hulle agtergelaat het, is 'n holderstebolder deurmekaar plek.

Maar, is dit vinnig duidelik, hy verstaan iets van geluk. Hy verstaan iets daarvan dat elke oomblik in God gesetel is en daarom transendeer dit ook hierdie moment van ver wees. En dis hierdie geluk, hierdie gesetel wees in God, wat onwillekeurig uit hom borrel en wat die wat in wêreldorde sy meerdere is, na hom aantrek omdat hy iets het wat meer blyk te wees as dit wat strepe op jou mou jou kan gee.

Nico vra uit oor die res van die bemanning. 'n Ent weg, staan 'n driemanskap ernstig en gesels. Jerome blyk elkeen se storie te ken - nie bloot die generiese temas nie, maar elkeen se unieke storie. Hy ken hul kommer oor die se pa, of die se dogter, oor die wat naby aan hulle is wat siek is, oor hul magteloosheid. Dit blyk dat die man uit Mindenau 'n gawe het om na harte te luister. Dis dalk dit – sy oopheid en gewilligheid om na elkeen se storie te luister wat hom so kosbaar maak vir sy mede-bemanning.

En hoe meer Nico met hom praat, hoe meer is dit duidelik dat daar 'n vlam van geloof in Jerome brand. Sy geluk is inderdaad gesetel in God. Wat meer is, is dat hy dit met ander aan boord deel. Hy ondersoek die literatuur wat Nico uit sy knapsak haal opgewonde. Noukeurig en met sorg, maak hy moeite om iets wat hy dink vir die manne aan boord sal werk, te vat. Want, daarin lê nie net vir hulle geluk wat dieper is as blote goedvoel nie, maar ook hul ewige heil.

Nico en Jerome sê soos ou vriende koebaai. Jerome draai om, 'n stapel literatuur in sy hand, en mik doelgerig na 'n bankie waar drie seemanne sit. Sy werk, duidelik nog nie klaar nie. 'n Gelukbringer inderdaad.