Hebreërs 13:5 - God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie."  

Skielik is ons lewens anders.  "Self-isolasie" was enkele weke terug nie eers in ons woordeskat nie.  Net so het die seeman se wêreld skielik heeltemal verander en het ’n geïsoleerde lewe skielik nog meer geïsoleerd geraak. 

Verlede week het die seemanne nog soos gewoonlik uitgegaan en besoekers soos ’n evangeliebedienaar vriendelik ontvang.  Hierdie week mag ons nie na hulle toe gaan nie en hulle mag nie na ons toe kom nie.  Geen kontak nie.  Isolasie. 

Sommige van hulle mag nie eers huis toe gaan nie, al sou hulle kontrak verstryk as gevolg van beperkinge wat afgedwing word deur die Coronavirus.  Abnormale verhoudings met hulle families het nog meer abnormaal en skeefgetrek geraak. 

God is egter steeds op die skepe.  Die seemanne wat Bybels ontvang het deur die jare, het steeds die Bybels.  Die saad van geloof wat deur CSO gesaai is, groei steeds voort.

Bid saam met ons vir die seemanne en dat hulle juis in hierdie tyd van isolasie sal vind dat God hulle nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie.  

En onthou, die belofte geld ook vir ons...