"Wie sou kon dink dat eeue terug - soos die profete sê - in Bethlehem 'n Kind sou kom wat in 'n krip sou lê? Wie sou kon dink dat hierdie Kind - Maria en Josef se Seun, die sonde van die wêreld op Homself sou neem.

Wie sou kon dink dat hierdie Kind wat lag en speel en sing, vir al sy maatjies in die buurt en vir ons die lig sou bring. En wie sou kon dink dat hierdie Kind vir die wêreld se pyn en nood, as Verlosser aan 'n kruis sou hang - en opstaan uit die dood?"

Wie sou kon dink dat in hierdie eeu - van chaos en oorlog en pyn - Betlehem se ster, steeds so helder sou skyn?  Wie sou kon dink dat 'n seeman nou - uit Sirië of Pole of Japan, steeds rus kan vind in die hooi van Betlehem se stal? En wie sou kon raai dat in die hawe in die Baai – waar Fernando angstig vertel van sy seer - die Kind steeds heling sou bring vir alles wat makeer?  En in die Durban dok? Wie sou kon dink dat vir Abel uit Wes-Afrika, met alle hoop verdring, die Kind stééds redding sou bring?  Op die kaai in Richardsbaai ontmoet Roger sy Verlosser, gebore in 'n stal - wie sou tog kon raai dat hierdie Kind, ook vir die man uit die Filippyne, berusting sou beding?  En in Kaapstad skyn die lig van die Kind tot op die Duncan kaai - waar William uit Engeland desperaat veg teen die donker se kwaai. 

En wie sou kon dink dat u donasie, klein, groot of beskeie, die Kind sou neem tot in die donkerste hoekies van 'n skip om húl daar te bevry - om die Lig te skyn oor hulle van ver, oor al die nasies, onbeperk.

En dit omdat ons glo - ons glo dit gewis - dat hierdie Kind die Redder is. Baie dankie aan ons donateurs wat die Kind na soveel honger harte neem.  Mag jy ook in hierdie tyd die Kind in al sy volheid beleef.