Als is 'n storie - u, ek, ons - elkeen 'n storie. Die heelal, 'n storie – soveel meer as bloot toevallig saamgeflanste atome. Ons bestaan, 'n storie – soveel meer as 'n vooraf gemanipuleerde diskoers wat ons bloot daagliks, onder dwang, slaafs navolg.

Wat is ons tog meer as ons stories?

Daagliks speel ons die hoofkarakter in ons eie narratief. Die tema, dikwels obsessief deurweek van klein woordjies soos 'ek' en 'my'. Ons streef om ons stories met woorde soos eerlikheid, waarheid, regverdigheid en liefde te skryf, maar dan, paradoksaal, aan die einde van die dag, as ons vir 'n oomblik onkant gevang word en in die spieël in die veraf weggesteekte donker hoeke van ons harte kyk, raak ons bewus daarvan dat ons stories ook deurdrenk is met waarhede soos selfsug, oneerlikheid en spyt.

Party van ons se stories is bly. Party s’n is bitter. Ander s’n weer, bitter seer. Maar, geen van hierdie stories vind in isolasie plaas nie. Ons is daagliks mede-karakters in 'n duisend stories, in 'n miljoen dalk. Dit blyk dat waar ons storie inpas binne hierdie groter narratief uiteindelik vir ons sin gee. Hoe ons inpas om alles te wees wat die Groot Outeur vir ons in gedagte het, blyk 'n ewige taak te wees.

'n Ander ding wat stories doen is om ons te beweeg, te motiveer en ons te dwing tot aksie. Daar is iets wat stories anders maak as kil syfers. Stories blyk data te wees met 'n siel. Dis iets wat die Meester-storieverteller ook geweet het. Sy stories van die Verlore Seun, die Saaier en nog vele meer het oor eeue inspraak gehad in ons eie verhale. Dit het ons beweeg, gemotiveer en ons tot aksie gedwing. Dit het ons die groot misterie beter laat verstaan en 'n rigsnoer en kompas geword waarvolgens ons, ons eie narratief kan skryf. Uit hierdie stories wil ek 'n saak maak dat ons nie bloot vreemdelinge en bywoners kan wees op hierdie planeet nie. Dit wil blyk dat deur onsself in ander se stories te begeef deel is van verstaan, deel is van sin maak van ons eie reis en deel is van wat ons hier moet kom doen. In elke storie waar ons mede-speler is en die waardes van die Man van die Kruis ons lei, word die Kind van die Krip weer en weer gebore. En daar, in hierdie oomblikke, daarin is sin. Dit gee betekenis binne ons eie storie en binne die stories van ander.

Wat volg is stories. Stories oor bly wees, bitter wees, seer wees en al die ander emosies wat deel uitmaak van die ongelooflike draaiboeke van ons lewensverhale. Ek skryf dit in die hoop dat dit u hart sal aanraak en inspraak sal maak in u eie storie.