Om te smag na Lewende Water
Gregori is 'n derde offisier aan boord die PACIFIC ANGEL*. In geradbraakte Engels knoop hy met Danie 'n geselsie aan as hy die Russiese Bybels herken wat in die eetsaal uitgepak is.
'Ek is nie 'n gelowige nie', spoeg hy dit uit soos 'n slegte smaak in die mond. Hy sê dit amper asof hy 'n oorwinning behaal het. In sy heel beste, maar erg lendelam Engels hou hy die kerk se geskiedenis en kommunisme voor as redes vir sy opstand.
Met geduld en deernis verken Danie Gregori se veglustige stelling. Hy vra na hoe Gregori die Bybel herken het in 'n poging om beter te verstaan wat die vlam van geloof in Gregori se lewe geblus het. Gregori vertel dat daar heelwat kerke is in die stad waar hy woon. Hy ken baie Christene in sy tuisdorp. Dit alles sê hy terloops, asof dit hom min skeel.
Maar dan, net vir 'n oomblik, aarsel hy voor hy vertel dat sy ouma 'n Christen is. En in hierdie woorde is daar skielik minder veglus en meer deernis. In sy praat oor sy ouma, in die bewondering wat hy vir haar koester en in sy nou sagter lyftaal, is dit duidelik dat sy na aan Gregori se hart is. Daar is 'n diep bewondering vir sy Christen-ouma en hoe sy haar lewe leef. Maar in hoe hy oor haar praat is daar ook 'n hunkering, 'n smagting om daardie vuur wat in haar brand ook in sy lewe te laat brand.
Om ook te drink van die Lewende Water wat so sigbaar in haar lewe is. En dan so onverwags soos reën as die son skyn, kom die vraag by Danie op: Is sy sogenaamde oorwinning oor geloof nie dalk sy grootste verlies nie? Kan dit wees dat sy soeke juis is na dit wat hy prysgegee het?
Nou draai die gesprek by hierdie ewige soeke, die ewige swerf in die woestyn.
Danie en Gregori se totsiens is anders as hul groet. Die groet is sonder angel en sonder aanklag. Dis nie dat Gregori tot geloof gekom het nie, maar eerder dat 'n saadjie wat reeds in hom geplant was, weer water gekry het. Met die wegstap draai hy vir oulaas na Danie om dankie te sê vir die Russiese Bybel wat hy onder sy arm dra.