Dis soos die perfekte storm, verduidelik die Filippynse man aan Nico.  Dis asof die heelal se elemente saamsweer om 'n fenomeen te weeg te bring wat verwoesting kan saai.  Daar is net niks wat gespaar word nie.

Alles word bedreig ...Hy vertel van sy werk - van die uitermatige druk aan boord, van geïsoleerd wees binne die staalmure van 'n skip, van 'n duisend uitdagings.  Hy vertel van sy finansies - hy kom net nie die mas op nie.  Hy vertel van huis - van hoe 'n huwelik op die rotse beland as jy mekaar vir nege maande nie sien nie, van die kompleksiteit van verhoudings, van hoe hy vir sy kinders 'n ou is wat elke nege maande kom kuier.

Uiteindelik bly daar net een vraag oor, verduidelik-vra hy vir Nico - ‘Is dit alles die moeite werd?’  In hierdie paar woorde word waar hy in die woestyn is saamgevat.  In hierdie een vraag is daar 'n duisend vrae - vrae oor ons doel hier, vrae oor of daar rede is om aan te gaan - dis 'n stelling wat 'n eksistensiële krisis verwoord. In hierdie woorde is daar gevaartekens.  In die konteks van 'n industrie waar selfdood oor die afgelope jare die hoogte ingeskiet het, is hierdie een sin 'n desperate hulpkreet - 'n kreet wat sê:   ”Ek sien nie meer kans vir hierdie pad nie.”

Nico kry geleentheid om op 'n dieper vlak met hom te gesels.  Hul kan inventaris neem van waar hy in sy lewe is.  Nico kan ook 'n ander perspektief bring - een waarin die boodskap, ‘Ek het jou op jou naam geroep, jy is myne’, sentraal staan.  Soms is ons werk nie om iemand tot by die oase te bring nie.  Soms is dit bloot om water te gee vir 'n moeë reisiger.  Water wat uiteindelik 'n noodsaaklikheid is, om eindelik by die oase uit te kom.  Na Nico se gesprek, sien die seeman weer kans om die pad verder te stap. 

Donasies: sms cso na 42030 om R30 te skenk of kliek hier vir ander opsies.