Elkeen dra 'n kruis ... In hul vertel van die gruwels en hartseer wat nou al amper 400 dae voortsleep, is die emosies en surrealisme van 'n woedende oorlog in 'n vlak graf in hul harte begrawe.  Hulle het drie maande oor voordat hulle, hul kruispad huis tóé aanpak.

Hulle vertel is onbeskaamd gruwelik.  Dis van vriende en seemanne wat vermink is, dood is, hul huise verloor het en baie ander ondenkbare dinge.  Dinge wat amper onspreekbaar is, het hulle alledaagse bestaan geword.  Elke vuurpyl en elke bom wat teen 'n gebou in die Oekraïne vasslaan, se skrapnel tref ook hier, al is hul knus, duisende myle weg in 'n veilige hawe.  Dis só ver en só naby.

Jy sou vergewe kon word as jy sou dink dat die kruise wat die tweemanskap, Alexi en Yuri saamdra, onregverdig swaar is.  Geen mens behoort aan soveel bloedvergieting, dood en smart blootgestel te word nie. “Eli, Eli, lemá sabagtani?”, “My God, my God, waarom het U My verlaat?” ego soekend deur elke aspek van hulle verhale. 

In elke verhaal is daar ook 'n hunkering; 'n smagting na genade, liefde en vrede.  Die ongesproke ondertone van hulle vertel skree onbeskaamd: 'Ons is dors’.  Dis 'n dringende en diepe soeke na daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan. 

Danie is daar om vir 'n oomblik te help dra aan hul kruise.   Hy spandeer tyd saam met hulle.  Hy luister, bemoedig, luister weer, vertel, luister nog, bid en doen alles wat nodig is om die las vir 'n oomblik ligter te maak.  Dit doen hy teen die agtergrond van die Kruis en die Man wat uiteindelik, met die smaak van suur wyn in sy mond,  voor hy sy laaste asem uitgeblaas het, gesê het: "Dit is volbring."

Elkeen dra 'n kruis, maar uiteindelik het een Kruis dit volbring.  Uiteindelik, moeg van bomme, vuurpyle en verminking, kan ons nie anders nie as om te sê: "Vader, in U hande gee ek my lewe oor".  Ure later, wanneer Danie die klein trappies na die kaai vat, is dit met die wete dat die twee manne bewus is dat Christus dit ook vir hulle volbring het.  Daarin is daar hoop.

Seemanne en die skepe waarop hulle dien, dryf 90% van alle wêreldhandel.  Hulle waag hulle lewens vir ons elke dag. Ons as 'n interkerklike sendingorganisasie glo dat ons vir elke gewillige seeman 'n Bybel in sy eie taal moet gee en hulle met die genade en liefde van Christus moet versorg. Ons bedien sedert 1944 duisende seemanne in ongeveer 106 tale in die vyf grootste hawens van Suid-Afrika.

Ons sal onverpoos voortgaan om die genade, hoop en liefde van die Een wat dit vir elkeen van ons volbring het, in 'n bitter stukkende wêreld aan te hou deel.  Die boodskap is 'n Lig op 'n lampstander, wat nooit teen die donker sal swig nie.  Deur ons werk finansieel te ondersteun, maak u ons hande sterk om die lig te bring daar waar mense swaar dra aan hulle kruise.  Oorweeg dit asseblief biddend. 

Om 'n maandelikse donasie deur middel van debietorder te gee, kliek hier om die debietordervorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.