Stilte kan skree.  Die grensmure wat ons nougeset om ons harte bou om die aanslae van buite af te weer, raak eindelik tronk vir ons stemme en siele.  Stil-stil doen ons, ons dagtaak. Vroom en afgemete met oortuigende masker-glimlagte sê ons dat als met ons wel gaan. Vir die ongeoefende oog, lyk die stilte na kalmte en vrede...  'Hy sê niks, so daar is niks.'  Dit, min wetend dat die stilte skree ...

Die jong Filippyn het 'n masker-glimlag.  Hy's stil en vinnig om te sê dat dit met hom goed gaan.  Maar in sy stilte hoor Danie, wat sy skip in Port Elizabeth besoek, die stilte skree...  Danie vra met groot versigtigheid hierdie kant en daardie kant vrae, maar die mure is hoog en die hekke op slot. Eindelik wil Danie weet of daar iets is waarmee hy kan help.  'Batterye vir sy flits', kom die antwoord skugter. Ongelooflik hoe iets wat op land so algemeen verkrygbaar is, vir iemand ter see 'n krisis kan wees.  Vier batterye wat later afgelaai word breek eindelik die stilte oop soos 'n rooi, ryp granaat...

Dis maar sy tweede kontrak.  Dis 'n nuwe kaptein, vreemde bemanning en nie 'n enkele vriend onder hulle nie. Onsekerheid, ewige verlange en emosies wat dreig om hom te oorrompel is alles vasgeknoop in sy stilte.  Vir 'n oomblik laat sak hy roekeloos die skanse wat hy so noukeurig opgebou het, sodat Danie agter die hoë mure kan insien.  Die stilte skree help, maar niemand aan boord blyk dit te hoor nie.

En dis 'n universele verhaal.  Seemanne wat verby beweeg  soos skimme sonder om te reageer op 'n groet, sonder oogkontak, hul oë eerder vêr verby na 'n onsigbare bestemming.  Wanneer die stilte eers nesskop en bystanders die stilte verwar met vrede, juis dan is dinge op sy mees breekbaarste. 

By CSO probeer ons luister na die skree in die stilte.  Nie vanuit die sielkunde of uit eie krag nie, maar vanuit die Woord van God. Ons glo en weet dat die Heilige Gees geboeide stiltes kan oopbreek wanneer ons die Woord aan boord skepe bring. Na lank gesels is daar vir 'n oomblik lig en hoop in die seeman se oë.  En so sal dit ook wees.  Dit sal soms voel of die lig en die hoop aan die taan is, maar dan sal die Bybel wat Danie in die jong man se eie taal in sy dankbare hande sit, 'n herinnering wees dat Hy wat hoop en lig gee, dit nooit wegvat nie.

Die nood is enorm.  Oorweeg dit asseblief biddend om 'n finansiële bydrae te maak, sodat ons kan aanhou om die mense van die see elke dag te kan bedien.

Om 'n maandelikse donasie deur middel van debietorder te gee, kliek hier om die debietordervorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.