As jy die nuus kry, sou jy wou glo dat die skip nou siekeboeg is, maar siekeboeg veronderstel tog sorg?  Eerder, is dit 'n drywende ysterkolos wat uitgeweke, verban op anker lê.  Almal hou vêr verby, want die pes is aansteeklik - Skoppensboer blykbaar aan boord.  Die sestien sterk manskap uit die Filippyne, het die dodelike variant saamgebring uit Indië.  

Nou is hulle vyftien.  Skoppensboer. 

Waar vlug jy heen, waar skerm jy teen die onsigbare as die onwelkome indringer saam jou op 'n skip vasgekeer is en tussen Indië en Durban daar net water en water en water lê?  Een-vir-een sien jy die simptomes in hulle rondom jou. Eers, 'n koggelende kuggie, met 'n onderskrif wat laggend impliseer dat hy jou ook nog sal vang. Dan koors. Dan asemnood. Dan, een van jou maats wat deur 'n groep medici, geklee in oorlogspakke teen die virus, êrens na 'n hospitaal in Durban verdwyn.  Dan jy wat kug.  Jy wat kortasem is.  Jy wat wonder – is hierdie versmoor of verdrink?  Dan die skielike, diepe besef dat hierdie lewe werklik maar net 'n asem lank is. 

Toegang tot die skip is vir Evangeliebedienaars 'n taboe, maar steeds werk hulle onverpoos vir elkeen aan boord.  Daar word bes moontlik na elke seeman se basiese behoeftes omgesien.  Aankope van die winkel word oudmodies per tou na die dek opgehys.  Die aankope sluit die basiese in, maar ook iets spesiaal net sodat hulle kan weet hulle maak saak. Daar word mobiele Wi-Fi aan die skip voorsien sodat elkeen aan boord ten minste hul families kan skakel.  In sommige gevalle skakel ons ook, op versoek, die families om ook hulle te probeer troos en gerusstel.    

Ook bemoediging van ons op wal aan die aan boord moet via die internetverbinding gebeur.  In hierdie gesels is die angs en vrees daglig-duidelik.  Maar ook ons boodskap: Jy is belangrik.  Die Seun van God het jou so lief dat Hy sy lewe vir jóú gegee het.  

Nou, in ons chaotiese wêreld, is die werk wat CSO doen belangriker as ooit.  Wil u dit nie dringend, biddend oorweeg om hierdie werk, vir hulle wat dikwels vergete en selfs uitgeworpe is, te ondersteun nie?  Dit bring die Evangelie en maak 'n daadwerklike verskil.

Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.