Die chaos blyk woedend te wees.  Soos die daeraad oor die pas afgelope maande in ons vasgevange bestaan verby gesleep het, was dit al asof donker magte saamgesweer het om ons slagoffers te maak van vrees en onsekerheid.

Maar, tog was daar die storie oor die Kaptein uit Suid-Korea.  Onthou u dit nog? 'n Storie oor hoe die chaos 'n nuwe orde daar gestel het. Een waar die dekhand en die Kaptein ten spyte van hul nasionaliteit, rang, rykdom of status gelyke grond kon vind.  Dit was 'n storie oor vrees, angs en ander naamwoorde wat so baie van ons se toestand deesdae beskryf. En die wending? Dat hulle ten spyte van al hierdie byvoeglike naamwoorde tog rus kon vind.  Rus in die woorde waarmee Danie hulle kon bedien: 'Wees stil en weet, Ek is die Heer'.

Dan was daar die seeman in Richardsbaai.  Woorde was arm om sy gebrokenheid te verpleeg. Want, hoe troos jy die ontroosbare? Geen woorde kon sy pa terugbring nie. Geen woorde sou die afstand oorbrug na sy familie wat hartgebroke aan die anderkant van die wêreld nie net 'n pa, oupa en man begrawe nie, maar ook akuut bewus is van die leë stoel en bed van hul seeman seun en pa.  Maar, in sy gesprek met Loffie ontdek hy dit:  Teen die donker klink daar 'n stem op wat onmiskenbaar hoop gee. Teen die agtergrond van afstand, vrees en angs is die stem duidelik. En, dis soveel meer as bloot woorde. Dis tasbaar, teenwoordig, werklik ... 'Wees stil en weet, Ek is die Heer'.

Onthou u die storie van Chris wat reflekteer op sy laaste paar skeepsbesoeke in Durban hawe? Die norm was altyd oop deure, vriendelike gesigte en gretige gespreksgenote. Nou, in die nuwe realiteit, vertel hy, is slot-en-grendel en agterdog die nuwe normaal. Van agter 'n steriele wit masker word jy sinies bejeën met oë wat jou onseker meet.  Die skielike agterdog natuurlik simptomaties van 'n verwaarloosde waarheid - dat daar tussen ons almal - ek, u, hulle, ons - 'n onteenseglike band bestaan. My manier van wees beïnvloed iedereen. Dis hoogs aansteeklik.  

Hy het vertel van sy besoek aan 'n behoueringskip met Indiërs en Filippyne aan boord - hoe hy met meelewing en omgee kon luister na elkeen se storie met 'n diep bewustheid dat die boodskap wat hy met hom saamdra hoogs aansteeklik is ... dat die boodskap van "Wees stil en weet, Ek is die Heer" vir elkeen van hulle, kan raak, kan beïnvloed en kan rigsnoer.  Sy storie oor hoe hierdie waarheid ten spyte van slot-en-grendel oop harte kon vind ...  

In 'n ander hawe was daar Peter uit die Oekraíne. In al die jare op sy seeman-kerfstok het hy hiérdie nóg nié gesien nie ... Sy vrees vir hoe woedend die see kan word, is jare al getem. Ervaring het hom storms laat deursien en hom onwrikbaar en kalm agter die stuur van sy majestueuse ertsdraer laat staan met die definitiewe wete dat hierdie storm verby sal gaan ... Maar hierdie woedende chaos is anders as die woedende see. Gesigloos, reuk en klankloos trek dit deur die heelal en dít - dít is vreesaanjaend. Dit laat sy normaalweg kalm gemoed aan skerwe en laat hom soms verpletterd in ongekende deurmekaar waters van angs.

In sy gesprek met die CSO Kapelaan het dit gegaan oor die onsigbare - oor die werklikheid van dit wat ons nie kan sien en die vrees wat dit inboesem. Maar, dis hier waar hy ook bewus raak dat hy heil kan vind in dit wat onsigbaar is. Die teenpool van dit wat ons hoor wat verdoemend is, wat ons sien wat vreesaanjaend is en die gewigtige beklemming op ons borskas is 'n stem uit die onsigbare: 'Wees stil en weet, Ek is die Heer'.

En so is daar 'n legio meer stories. Stories oor hoe CSO die realiteit van hoop in hierdie vreemde tye met seemanne kon deel.  CSO is soveel meer as 'n paar Kapelane ... dit is uiteindelik 'n familie donateurs wat elke gesprek, elke Bybel, elke kospakkie en elke stukkie omgee na elke skip in ons hawens neem.  In elke liewe storie is die rol van ons donateurs onteenseglik vervleg.  Wil u dit nie dringend biddend oorweeg om deel te word van ons familie en met u finansiële bydrae die boodskap van die Evangelie aan seemanne te neem nie? So sal ons seemanne in die woedende chaos kan aanhou herinner:

Wees stil en weet, Ek is die Heer.
Wees stil en weet, Ek Is.
Wees stil en weet.
Wees stil.
Wees.

Mag u ook hierin rustigheid vind.