Dis die gesigloosheid daarvan wat die meeste vrees inboesem. Ons onkapabele sintuie hoor, proe, voel en bespied niks, maar tog is dit daar, swerwend deur die heelal op soek na 'n plek om sy koue kloue in te slaan.

Dit wat ons wel hoor is verdoemend, wat ons wel sien vreesaanjaend en wat ons voel aan ons lywe, 'n hoogspanningsdraad wat ons harte woes laat klop en ons met 'n gewigtige beklemming op die bors laat.

Peter kom uit die Oekraïne. In al die jare op sy seeman-kerfstok het hy hiérdie nog nié gesien nie ...  Sy vrees vir hoe woedend die see kan word, is jare al getem. Ervaring het hom storms laat deursien en hom onwrikbaar en kalm agter die stuur van sy majestueuse ertsdraer laat staan met die definitiewe wete dat hierdie storm verby sal gaan ... 

Maar hierdie woedende chaos is anders as die woedende see.  Gesigloos, reuk- en klankloos trek dit deur die heelal en dít - dít is vreesaanjaend. Dit laat sy, normaalweg kalm gemoed aan skerwe en laat hom soms verpletterd in ongekende deurmekaar waters van angs.

As die CSO kapelaan met hom hieroor praat, kom die bekentenis nie maklik nie.  Hy is immers 'n mans-man. 'n Seeman. Vreesloos - geen sissie nie.  Maar nou dit ... 

En sy vrees is nie noodwendig vir homself nie, maar vir hulle wat by sy huis ook deur die gesiglose ondier bedreig word. Dat hy hulle dalk nooit weer sal sien nie ...  Dat hy die dinge wat hy nog altyd wou sê, nie gesê het nie ... 

In die gesprek wat volg gaan dit oor die onsigbare - oor die werklikheid van dit wat ons nie kan sien en die vrees wat dit inboesem.  Maar, as hulle rustig daaroor besin en saam lees uit die Bybel waarvan Peter nou die trotse eienaar is, raak hy bewus daarvan dat hy ook heil kan vind in dit wat onsigbaar is.  Die teenpool van dit wat ons hoor wat verdoemend is, wat ons  sien wat vreesaanjaend is en die gewigtige beklemming op ons borskas, is 'n Stem uit die onsigbare ...

Wees stil en weet, Ek is die Heer.
Wees stil en weet, Ek Is.
Wees stil en weet.
Wees stil.
Wees.

Baie later, as hy die Bybel onder sy arm insteek, kan hy nie help om tog sy hand uit te steek ten spyte van sy vrese vir die onsigbare virus nie (net vir die rekord ons het die nodige skoonmaak daarna gedoen!). Terwyl hulle bladskud verduidelik hy dat hy hierdie Onsigbare werklikheid dringend met elkeen van die ander op sy skip sal moet deel. Want, in hierdie onsigbare is daar troos. En, as hy dit met sy bemanning deel, raak die Onsigbare, sigbaar.