In Durban reflekteer Chris oor sy laaste paar dae van skeepsbesoeke ...  Hy vertel van die skielike andersheid in seemanne.

'n Dekade van skip-na-skip en bemanning-na-bemanning, skool jou in die fynere nuanses van lyf-lees. In jou eerste oomblikke aan boord verklap die subtiele liggaamstaal van die een wat jou inteken of jy vriend of vyand is. Dit skep 'n premonisie vir wat sal volg ...    

Die norm is oop deure, vriendelike gesigte en gretige gespreksgenote. Nou, in die nuwe realiteit, is slot-en-grendel en agterdog die nuwe normaal. Van agter 'n steriele wit masker word jy sinies bejeën met oë wat jou onseker meet.  

Die skielike agterdog is simptomaties van 'n verwaarloosde waarheid - dat daar tussen ons almal - ek, u, hulle, ons - 'n onteenseglike band bestaan. My manier van wees beïnvloed iedereen.  Dis hoogs aansteeklik.    

Chris besoek 'n behoueringskip met Indiërs en Filippyne aan boord. Ook vir hom is hierdie nuwe realiteit van maskers en agterdog vreemd - die bewustheid van aansteeklikheid, seker. Die seemanne vertel gespanne dat hul maatskappy nie toelaat dat enige van hulle, ten spyte van verstrykte kontrakte, mag huis toe gaan nie. Net so is enige nuwe seemanne wat sou aansluit 'n taboe. Vir hoe lank dit die status quo sal wees kan geen grafiek, metode, data analise of die slimstes onder ons raai nie.  

En teen hierdie agtergrond dan, die diep bewustheid, van die nuut maar ou waarheid, dat ons elkeen verbind is aan mekaar. Ons is aansteeklik - ons raak, ons beïnvloed en rigsnoer elkeen rondom ons. In ons handel en wandel behoort ons diep bewus te wees van 'n onlosmaakbare verantwoordelikheid vir ons aansteeklikheid. Hierdie verantwoordelikheid bring die 'hulle' waaroor ons so dikwels dit-en-dat te sê het, tot midde-in ons.  

As Chris man-vir-man met meelewing en omgee luister na elkeen se storie; as hy sorg dat elkeen van die gretige hande 'n Bybel in hul eie taal kry en hul toerus met ander geestelike literatuur, dan is dit met 'n diep bewustheid dat die boodskap wat hy met hom saamdra hoogs aansteeklik is ... dat die boodskap van "Wees stil en weet, Ek is die Heer" vir elkeen van ons, vir elke seeman, kan raak, kan beïnvloed en kan rigsnoer.  

As hy weer oppad is, span hy wéér sy vernuf in om lyf te lees. Hy stap met die geruste wete dat hulle aan boord iets beleef het van die aansteeklike boodskap wat sê:

Wees stil en weet, Ek is die Heer. 

Wees stil en weet, Ek Is.

Wees stil en weet. 

Wees stil.

Wees.