Isolasie

Dit word jou hele bestaan... Jy is 'n wêreldburger en tog is jou bestaan ingekluister en beperk tot binne die vier yster mure van jou kajuit. Week na week maak jy vlugtig kennis met 'n nuwe wêrelddeel net om weer binne 'n paar uur in isolasie vasgekeer te wees, op pad na die volgende land, die volgende stad, die volgende hawe....

George, alreeds seeman vir vyf-en-twintig jaar, vertel vir Danie in Port Elizabeth van hierdie wipplank bestaan.  Jou kajuit raak huis, verduidelik hy.  Foto's word met wondergom gerangskik sodat jy kan onthou, sodat jy kan deel wees, kan vasklou aan 'n familie wat tienduisend kilometer van jou af 'n bestaan leef waarmee jy eintlik weinig min te doen het.  

Maar dis die spasies tussen foto's wat van jou kajuit ook tronk maak. In die lewelose kleur muurverf wat tussen die leë spasies tussen foto's pryk, lê verlore momente.... Tussen die foto van gister en vandag lê 'n duisend oomblikke - die oomblik toe jou klein dogtertjie haar eerste woord gesê het, die oomblik toe jou seun sy eerste drie gedruk het....  

Die koms van tegnologie het dinge verander.  Nou kan jy sms'e en eposse kry.  Maar as jou foon vibreer en aankondig dat jy 'n teksboodskap het en dis 'n somber sms wat nuus bring dat jou vrou pas in die hospitaal opgeneem is, maak geen tegnologie die duisende kilometers tussen jou en haar 'n kilometer nader nie. Navorsing uit Brittanje wys dat seemanne die tweede hoogste selfdood syfer van enige beroep het....

George en Danie praat geloof.  Eindelik vat George 'n Tagalog Bybel en terwyl hy dit teen sy bors druk sê hy dat sy kajuit nou ook sy kerk is.  As Danie deuruit oppad is gooi George sy arms om hom, want, verduidelik hy, dis hierdie besoeke, hierdie geselsies wat die grootste en mees waardevolste teenvoeter is vir 'n meestal monotone bestaan.  Dit bemoedig, gee hoop ...