Weerloosheid - die storie van sy hart

Nico beskryf hom as die broosste seeman wat hy nog ooit teëgekom het.  Sy oё vertel stories van nie kans sien vir hierdie pad wat die lewe so sonder sy goedkeuring vir hom gekies het nie.  Iets in sy lyf getuig van weemoed, van 'n malle rondomtalie bestaan waarin die 'dice' vir hom verkeerd geval het.

As hy vir Nico in vertroue neem is weerloosheid ook die storie van sy hart.  Dis nou twee maande vandat hy op 'n kaai in die Filippyne almal wat hy liefhet gegroet het - vandat hy alles wat hy ken, daar agtergelaat het.  Sy hart is nog daar ... 

Na twee maande voel die sewe maande wat nog voorlê soos 'n onmoontlike, nimmereindigende ewigheid. En, erken hy dan, op kere oorspoel gedagtes waarin hy dink om ‘n einde aan als te maak hom en sleur dit hom weg tot midde-in 'n diep en donker plek waar dit voel of jy verdrink, verswelg, maar almal om jou steeds asemhaal.

Maar hy onthou die gesigte daar op die kaai. Die glimlagte, die goeie wense.  Vir hulle is hy man, seun, pa, held en hoop, die verskil tussen 'n ellendige vergaan en bestaan.  Hy is hul oorlewingsplan.

Daarom veg hy elke dag verbete teen die trane wat so dreigend, bitter vlak opgedam lê.  Daarom is hy braaf, gedetermineerd – om man te wees, seun te wees, pa te wees.  Om held en hoop te wees. 

En in sy weemoed stoei hy met God.  Hy stoei met Hom oor hierdie pad - oor hierdie kruis.  En in hierdie spesifieke oomblik waar daardie galg-swart water dreig om hom te verdrink, is Nico se besoek tydig.  Dis genade.  Dis beplan.

As hy Nico se hande beide vat en hul saam bid, kom ‘n oomblik van kalmte daarmee saam.  'n Helder oomblik van hoop. Van moed.