Laat ons juig oor 'n nuwe medewerker! Laat ons jubel, feesvier, want die oes is groot en die arbeiders min. 

Alex se storie begin midde-in 'n woedende storm ter see. Vegtend teen die huilende wind wat in die donker nag die seesproei kwaad oor die dek aanjaag sodat jy blind jou pad moet vind, moes Alex 'n laaste veiligheidsmeganisme op die rammelende skip nagaan. Nog net een, dan sou hy ook die knus binnekant van die skip as verweer teen die storm gaan opsoek.

Om die golf wat oor die skip gespoel het in mensetaal te probeer verwoord is gebrekkig. Majestueus. Enorm. Angswekkend. Groots - Alles gebrekkig.  Soos dryfhout het die water hom moeiteloos saamgesleur oor die dek en hom baie meters verder oor die rand gegooi. In 'n laaste gryp na 'n strooihalm het sy vingers se laaste litte tog iets raakgevat. Hangend tussen lewe en dood, hemel en aarde, het hy magteloos probeer om homself op te hys na bo.

Vreemd hoe, wanneer jy dood in die oë kyk, wanneer jou watergraf meters naby soos 'n honger leeu lê en wag, jy perspektief kry. Hoe 'n oogwink na 'n duisend uur is. Vreemd hoe nood leer bid.

In daardie oomblik het Alex tot God geroep, gesmeek, gepleit – en soos die laaste vashou uit sy vingerpunte verdwyn, het twee hande skielik syne stewig vasgevat. Op die brug het iemand gesien hoe die golf oor hom breek en met nie 'n oomblik te spaar nie, kon hy net betyds sy lewe red.

Vandaar Alex se belofte. 'n Belofte wat steeds staan. Om sy lewe te wy aan die Een wat luister as die dood maar 'n haarbreedte ver is.

Waar Alex sy verhaal aan Danie in Port Elizabeth se hawe  vertel, beaam sy makkers dit gou. Hulle vertel vinnig hoe Alex hul Bybelstudie laat hou, laat saam bid, hulle motiveer en konstant herinner dat ook hulle deur die Man van die Kruis vrygekoop is. Dit doen Alex met stukke flenterpapier wat hy oor tyd bymekaar gemaak het. Daar is geen Bybel aan boord nie.

As Danie aanbied om aan elkeen in die groep 'n Bybel in sy eie taal te gee, is die atmosfeer elektries. Dis 'n jubelfees. 'n Viering!  En so vat Alex en sy maats, elk gewapen met 'n Bybel, die Evangelie die wye wêreld in.  Hulle is nou ons medewerkers ...

Dis wat donasies aan ons moontlik maak. Die geskenk wat  gegee word en gaan aanhou gee.