Vasklou vir lewe.  Dit was op daardie stadium die enigste verweer teen die woedende storm wat die reusagtige, maar bitter-klein skip geplunder het.  Met toue getem aan die kaai, inspireer die reuse skip vertroue asof onbreekbaar, maar in hierdie storm, aan die Afrika Weskus, raak die skip bloot dryfhout wat ongenaakbaar rondgeruk word deur die mag van die onstuitbare see.

So vertel Alexi vir Danie in Port Elizabeth.  Die sout van die see loop na jare diep in die man van die Oekraïne se are, maar so iets, dit het hy nog nooit gesien nie.  Met 'n leeftyd se ervaring ken hy die vermoëns van sy skip en die weë van see.  Maar, in hierdie storm, waar die skip aanhoudend, vir wat soos dae gevoel het, amper noodlottig oorhel van bakboord na stuurboord, het elke deining wat die skip dreig verswelg het, twyfel help kweek.

Emosioneel, diep bewus van sy magteloosheid, het die storm hom skielik gekonfronteer met nie net die bedreiging wat die geweld van die water buite inhou nie, maar ook die storm binne.  Asof 'n sameswering tussen buite en binne, het in hierdie moment, ook die deinings van dit wat jare al in hom woed, oor sy hart gespoel.  Ook dié het gedreig om hom te verswelg...     

En in hierdie oomblik van magteloosheid, van oorgee, van opgee - was al wat oor was om na God te roep.  En daar het hy Hom ontmoet. 

Nou hier in Port-Elizabeth, lê die moeg nog vlak.  Fisies, emosioneel, geestelik - alles saamgemeng tot 'n moegheid wat 'n middag se slaap nie kan heel nie.  Maar tog het hy 'n nuwe vrede.  As hy die nuwe Bybel in Russies teen sy bors vasdruk terwyl hy en Danie deur die noodsaaklike proses gaan om die emosies een vir een uit te pak, raak Alexi 'n getuie daarvan dat almal wat moeg en oorlaai is, Rus kan vind.

U donasie bring ook in hierdie tyd die Rus van die Kind van die krip na seemanne.  Ons donateurs se donasies het dit vir Alexi gedoen.  Wil jy nie deel wees hiervan nie? Mag jy ook in hierdie nuwe jaar wat voorlê daardie Rus ervaar.