Hy's nie eintlik iemand op die skip nie. Hy's maar nog op die laagste trappie van die rangorde. Maar, in sy storie, is selfs dit merkwaardig - hy het 'n ver ent gekom.

Selfs al is hy die minste, het hy 'n doelbewuste keuse gemaak. Selfs as dit soms beteken dat dit hom 'n buitestaander maak, selfs 'n onpopulêre uitgewekene, is hy met hart en siel verbind tot hierdie keuse.

Sy keuse is vir die Man van die Kruis. Sy keuse is om sy storie te skryf met woorde en waardes soos liefde, genade en hoop. Woorde en waardes wat hy sy eie gemaak het uit die storie van die Kind van die krip wat uiteindelik ons elkeen se redder sou wees. En hierby staan hy . . .

Van die vyftien of twintig man wat die bemanning sterk is, is hy die enigste een. Almal anders is Moslems uit Indonesië. Deesdae is sowat tien persent van die bevolking daar Christene, maar steeds is wrede vervolging 'n alledaagse realiteit.

Is dit nie prysenswaardig nie? Om die minste te wees in terme van posisie en rang, maar steeds ondubbelsinnig, onteenseglik te verklaar, 'Ek kies die Man van die Kruis'.

As hy sy storie vertel, is dit een van eenvoud. Sy storie se hoofkarakters is 'n vrou en twee dogters - dogters wie se storie hy graag wil vorm met die waardes van die Man van die Kruis.

Loffie se besoek is vir hom een van reuse bemoediging. Bemoediging om die pad aan te hou stap ten spyte van alles wat teen hom tel.

As Loffie vir hom 'n Bybel in sy eie taal aanbied, is dit die eerste teken van ongeloof wat hy wys. Kan dit wees? Hoe is dit dat hierdie man wat hy nou net ontmoet het, vir hom hierdie reuse geskenk kan gee? Eindelik skraap hy al sy moed bymekaar en vra vir Loffie of daar enige kans is dat hy nog 'n Bybel kan kry - dan het hy een vir elke dogter. En dan, met 'n oop hand, kan Loffie 'n tweede Bybel uit sy knapsak haal. Loffie kan dit doen met die wete dat hierdie twee Bybels inslag sal maak in stories wat hy dalk nooit sal hoor nie.