Sommer met die intrapslag begin hy vertel. Soos 'n ryp granaat wat oopbars vloei die storie uit hom uit asof hy dit binne hom moes dra tot op hierdie presiese oomblik van Nico se besoek.

Dis asof hy gewag het vir die regte oor om te luister. Ons is elkeen uniek in hierdie opsig ... party van ons se DNA laat ons gretig deel terwyl ander hul stories opgesluit hou in hul hart se diepste kluis. Dalk het ons hoe ons met ons stories omgaan juis te doen met ons stories – ons is gevangenes van ons ervarings ...

Vahn is van El Matador. Die einde van sy nege maande lange kontrak is op die horison. Maar, op die horison pak daar skielik dreigende, swart, onheilswolke saam. Na amper vier jaar binne 'n verhouding het sy maat onlangs laat weet dat dit als verby is. Boonop, moes hy kort daarna per riemtelegram ontdek dat sy hom gelos het vir sy beste vriend.

Vir so lank was sy die hoofkarakter in Vahn se storie. Sy was sy muse, sy roos. Sy was wat gemaak het dat hy in die oggend opstaan, die wind onder sy vlerke. Hy was so seker van haar ... Hoe kon hy so verkeerd gewees het - oor haar en oor iemand wat hy letterlik sy lewe lank beskou het as 'n boesemvriend? Hoe kan dit wat sin aan sy storie gegee het net in 'n oogwink soos mis voor die son verdwyn? Skielik is die twee helde in sy verhaal die protagoniste.

Sy wisselstroomgemoed spring tussen 'n onverteerbare hartseer oor verlies en onbeskryflike woede oor verraad. Dis bitter, dis seer. Dit verswelg in hierdie oomblik die totaliteit van sy bestaan. Sy kwaad is ook vir die see. Vir nege maande. Nege maande op hierdie skip. Watter verhouding kan dit deurstaan?

Skielik is Nico mede-karakter in hierdie storie. Sy daarwees skep 'n ruimte waar hierdie seeman vir 'n oomblik die opgekropte emosies kan aflaai. Nico stel hom bekend aan nog 'n Rolspeler in sy verhaal: God. Dit bring nuwe perspektief binne sy storie. Perspektief dat daar tog Iets is wat ewig is. Iemand wat nie vlietend is.

Ons elkeen kort 'n rots in ons verhaal, 'n ewige teenwoordigheid in elke hoofstuk en op elke bladsy. Moeg baklei, die kwaad vir 'n oomblik uitgewoed, vind Vahn vir 'n oomblik hierin vrede.