'Ons word slegter as honde behandel, maar daar is een groot verskil, as iemand iets aan 'n hond doen dan is almal besorgd, maar as iets met 'n seeman gebeur is dit nie juis vir iemand 'n probleem nie' gesels die kaptein. Hy bekla sy en sy mede-seemanne se lot by Chris in Durban-hawe. Die gesprek maak 'n draai by seerowery voor hy verder vertel hoe uitdagend die seemanslewe kan wees.

Asof sprekend van die gesprek, stap twee polisiemanne breëbors die kantoor in. Hulle moet dokumente nagaan vir vuurwapens aan boord. Die skip is om die Kaap van Goeie Hoop langs oppad noord, na die onstuimige waters van Wes-Afrika. Onstuimig, nie omdat die see opsigself rof en moeilik is om te navigeer nie, maar onstuimig omdat hier in 2018 meer seerower-aanvalle was as ooit tevore. Seerowery, wat vir die afgelope paar jaar aan die daal was, het in 2018 vir die eerste keer weer gestyg. Statistiek wil dat die aanvalle meer gewelddadig is as ooit, dus meer vreesaanjaend.

Die kaptein laat die taak van die twee bulhonde aan die hoofoffisier oor. Een bulhond, van meet af dreigend, blaf dat as hul nie hul samewerking gee nie, hul moeilikheid sal kry. Die ander dring sonder 'n dankie of asseblief aan op mineraalwater, asof dit 'n reg is wat saam met die 'badge' kom. Die seemanne weer, dans nederig na die twee se pype, bewus daarvan dat dit 'n magspel is.

Die twee uniforms se minagting waarmee hul die mense hanteer, laat vir Chris weer die lot van seemanne besef. Wapens aan boord is vir elke kaptein 'n dreigende nagmerrie. Nie net hou dit 'n gevaar in vir hulle aan boord nie, maar dit spel onheil. In elkeen van die gewere wat nou op die brug uitgestal lê, skuil die belofte van konflik – konflik wat potensieel dodelik kan wees. Wat meer is, het elke land se waters unieke reëls oor die dra van wapens. Onlangs het 'n saak in Indië byvoorbeeld groot opspraak gemaak toe 'n

skip met wapens op, enjinprobleme opgetel het en in Indiese waters ingedryf het. Die seemanne is gearresteer, in 'n tronk gegooi en die sleutel is spreekwoordelik weggegooi. Wapens aan boord is nie net 'n wetlike tameletjie nie, maar eintlik is dit die emosies wat dit teweegbring wat soos 'n weervoorspelling onheil op die horison voorspel wat elkeen se gemoed aan boord raak.

Wat die meeste tref van die minagting wat voor Chris afspeel, is die twee bulhonde se totale gebrek aan begrip vir die situasie. Vir hulle is papiere wat hulle moet afteken gelyk aan mag. Dis hulle 'Carte Blanche'-kaartjie om te doen net wat hulle wil.

Na afloop van die petalje, word Chris deur die kaptein vir ete genooi. Op die oog af verrig Chris geen wonderwerke aan boord nie. Hy gesels vriendelik, luister empaties en vra meelewend uit met respek vir elkeen aan boord. Tog is dit, in hierdie wêreld van bulhonde, iets ongewoon, iets groots – selfs iets radikaal. En in hierdie radikale saamwees – word die verhaal van Krip en Kruis gedeel. Hierdie meelewing en omgee word die bewys van 'n leë graf.